Visuele Dagboek

Kollage met waterverfpotlood

 

 

 

Om ‘n sketsboek te gebruik: Persoonlike Visuele DagboekOm ‘n sketsboek te gebruik is ‘noodsaaklike deel van teken en skilder. Dit word ‘n visuele dagboek van mense, plekke en gebeure wat jy gebruik as  bron van inligting en ook vir inspirasie.

Dit is ‘n goeie idee om in die gewoonte te kom om ‘n sketsboek saam met jou te dra, gebruik dit om enigiets te skets wat jou oog vang. ‘n Skets kan  onopsigtelik in ‘n paar minute gedoen word. Jy kan mense by die werk skets, of mense wat in ‘n park of winkelsentrum rondstap. Mense wat kuier by ‘n koffieplek of restaurant. Vra gerus vriende en familie om vir jou te poseer. Om portrette te skets is pret en hoe meer jy kan oefen, hoe beter.

Jy kan ook tyd neem en verskillende landskappe, geboue of diere skets. Die moontlikhede en idees is te veel om op te noem.

Om goed te kan teken neem oefening, selfs gevorderde kunstenaars het nodig om gereeld te oefen. Sketse hoef nie perfek te wees nie, dit is bedoel as jou eie private rekord van wat jy gesien het of wat vir jou interessant was. So word jou sketsboek jou persoonlike visuele biblioteek, vol verwysings en idees vir toekomstige tekeninge en skilderye of projekte.

Met dit in gedagte probeer dus altyd soveel moontlik inligting in sketsboek te stoor. Dink aan detail, soos houding, vorm van kop, ore en enigiets anders wat jy oplet. Probeer ook om verskillende posisies te skets. Gebruik gerus kleurpotlode, dit is maklik om rond te dra, gebruik b.v. vir vinnige kleursketse van ‘n sonsondergang, of om die presiese skakering van ‘n blom te kan onthou. Waterverf kan ook gebruik word om die kwaliteit van lig en skadu vas te vang.

Maak ook  nota’s in jou sketsboek, dis net so belangrik as die skets self. Noteer die datum, tyd van die dag, weersomstandighede en ligtoestand, asook seisoen ens. noem die ligbron en rigting waar vandaan die lig kom. Klanke, geluide en reuke kan ook neergeskryf word. Kyk of jy nie ‘n blaartjie, veertjie of skulpie kan gebruik en plak in sketsboek. Jy kan selfs ‘n poskaart, servet, grassie of blommetjie inplak.

Neem dus jou sketsboek saam oral waar jy gaan en jy sal nooit weer wonder wat om volgende te skilder nie.

Wenk:

‘n Kamera is handig om saam te neem, veral as die tyd min is, of as weersomstandighede nie toelaat vir skets nie.

Foto’s is goeie hulpmiddels vir referensie en ‘n paar foto’s tesame met ‘n paar detail sketse kan die ideale vertrekpunt wees vir ‘n geslaagde skildery.

Meeste kunswerke begin eers as ‘n skets. ‘n Skets wat goed gedoen is dien as geheuebank en kan ‘n basis wees vir ander werk. Om te skets is ‘n manier om iets vir altyd te bêre, moet dus nie ‘n skets weggooi nie al is dit hoe klein of onbelangrik, want enige skets wat jy gemaak het is uniek en oorspronklik en jy kan altyd van dit leer. Wanneer jy begin skets leer jy om te kyk en waar te neem, om werklik te sien en kleure te onderskei. Geniet dit om te skets, probeer binnenshuis, en ook buite skets.

 

Verskillende tipe sketse:

  • Genotvolle skets: Dit is ‘n tekening of skildery wat gedoen word suiwer vir die genot van die oefening.
  • Inligtingskets: Word gedoen om inligting en detail weer te gee sodat dit vir latere gebruik gebêre kan
  • Atmosfeerskets: Word gedoen om die atmosfeer en gevoel in die eindproduk te verkry, kan later gebruik word vir atmosfeer en gevoel of kan dien as inligting vir skildery wat binnenshuis voltooi word.
  • Spesifieke skets: Word gedoen om van ‘n spesifieke onderwerp soveel moontlik inligting, detail, atmosfeer en gevoel te kan Die tipe skets dien ook as basis vir ‘n voltooide skildery. Dit is ‘n kombinasie van inligting, atmosfeerskets, van ‘n spesifieke plek.

 

Om kortliks saam te vat:

Belangrike inligting wat in jou skets moet wees as jy dit weer wil gebruik:

  • Posisie van die son of ander ligbron
  • Skaduwees
  • Groottes en posisies van vorms wat belangrik is (b.v. boot, lamppaal, geboue, persoon ens. en hoe groot hul in verhouding is met mekaar).
  • Skaal: sit iets in wat jou help om skaal te bepaal.
  • Maak aantekeninge oor kleure of doen kleursketse

Bron: Learn to sketch: Alwyn Crawshaw, Colour Pencil Drawing, Art Workshop 1 en 2

Oef. 1 Sketsboek:

Begin om van vandag af in die gewoonte te kom om baie te skets. Doen op een bladsy ‘n klomp verskillende klein sketsies, plak foto’s ens. Maak dit werklik jou persoonlike visuele dagboek.

Begin met sketse van jou troeteldiere, gunsteling koffiebeker, boeke, blomme, kledingstuk of skoene, grassies, skulpies ens.

Onthou dit gaan om jou tekenvermoë te oefen, nie om dit foutloos te doen nie, jy hoef die sketse ook vir niemand te wys nie

 

Oef. 2

          Kry vir jou ‘n gewillige “slagoffer” en skets iemand wat jy ken, begin met net hande en voete,of oor, neus of net die oog. Dit help ook om eers te skets sonder om op die papier te kyk (regterbrein oefening) om die onderwerp te bestudeer, en daarna skets of teken jy persoon terwyl jy ook op papier kyk.

 

Pin It on Pinterest

Share This

Share This

Share this post with your friends!