Week 11 Vincent van Gogh se stoel as Selfportret

 

Om ‘n selfportret te skilder is deel van enige kunstenaar se projekte of keuse van onderwerp. Vincent van Gogh het dikwels homself geskilder, deels ook omdat hy nie altyd geld gehad het om sy modelle te betaal nie.

In hierdie skildery het hy bo en behalwe sy stoel, ook sy sakdoek, met sy voorletters op geborduur, sy pyp en tabak geskilder. Die stoel in hierdie skildery is identies soos die stoel wat hy in een van sy  vorige skilderye van sy slaapkamer gemaak het. As onderwerp lyk dit aanvanklik baie eenvoudig en gewoon, maar eintlik is is dit geïnspireer deur ‘n Japanese kunstenaar vir wie van Gogh ‘n groot bewondering gehad het. Die Japanese kunstenaar het ‘n studie gemaak van ‘n enkele gras halmpie, net om te ontdek dat so’n taak hom stap vir stap verder lei om die skepping en eenvoudige werklik raak te sien.

Stoel as selfportret

Deur sy pyp in die skildery te bring, maak hy die onderwerp persoonlik, en is dit amper soos ‘n selfportret. Hy was lief om sy persoonlike besittings te skilder. In Parys was dit sy ou stewels en in Arles sy klompe wat baie gedra was. Hierdie onderwerpe vertel net so baie van die eienaar as wat ‘n portret sou doen.

Die kleur komposisie in hierdie skildery is gebaseer  op die variasies om pare primêre kleure : blou en oranje, rooi en groen. Soms het hy die kleure puur gebruik, soms saam met kleur gemeng. Die gedeelte met die suiwerste rooi op die  teëls onderdie stoel is gebalanseer met ‘n klein bietjie groen bokant dit en ‘n verdere strook groen op die naaste stoelpoot. Hy beklemtoon die struktuur meer, deur sagte buitelyne wat later aangebring is. Dit versterk die impak van die beeld, maar skep ook spanning tussen lyn en kleur. Deur die perspektief te verbuig druk Van Gogh sy eie stempel af op sy werk en die skildery is bedoel om ongerep en natuurlik voor te kom, in teenstelling met van sy tydgenote se werk, wat kunsmatig kon wees. Bron:History and techniques of the Great Masters: Van Gogh – deur William Hardy

 

Oefening 1:

Oefen eers en dit help om ‘n boks te teken, wat regop staan, en teken dan die stoel dat dit binne in die boks pas.

Doen ‘n reproduksie van Van Gogh se stoel en pyp.

Oefening 2:

Kyk vir ‘n foto met ‘n stoel, besluit op ‘n kleur kombinasie en doen:

  1. Studie in potlood of houtskool vir toonwaardes. (Let op na die ligbron vir skadu)
  2. Skilder die stoel en probeer om nie ‘n kopie van die foto te maak nie maar eerder ‘n interpretasie. Laat dus weg wat nie belangrik is nie, verander hier en daar iets.

Wenk: Om jou eie styl te ontwikkel is dit nodig dat jy eers reproduksies maak van ander kunstenaars se werk. Vra jouself hoekom jy ‘n sekere kunstenaar se werk bewonder, is dit die kleure, komposisie, onderwerp, tegniek, gebruik van lig en donker, ens? Vir groei en ontwikkeling kies jy, nadat jy die reproduksie voltooi het ‘n soortgelyke foto en doen dan weer ‘n skildery op dieselfde manier en gebruik dieselfde tegnieke.

Oefening 3:

Kies ‘n stoel by die huis en plaas iets wat vir jou persoonlik baie beteken op die stoel, bv ‘n boek, porselein koppie, hoed, skoene, baadjie, rok, serp, blomme of vrugte, ens. Maak eers ‘n paar komposisies op verskillende maniere en neem foto’s, doen ook klein sketsies. Kies dan die een wat vir jou die beste werk en begin skilder, of teken met medium van jou keuse.

Opsioneel:

Wat van ‘n stoel met jou troeteldier?

‘n Stoel buite in die tuin, en kies verskillende seisoene, soos lente, somer of herfs.

 

 

 

 

Pin It on Pinterest

Share This

Share This

Share this post with your friends!