Handige Gidslyne om met paletmes te skilder (deel 2)
Algemene gebruik vir die paletmes:
Hier is ‘n paar idees waarvoor jy die paletmes kan gebruik:
- Skilder ligpunte op rotse
- Skilder sneeu op toppe van berge
- Om teksture op te bou in die voorgrond, skep teksture van klippe, gras en ander elemente in die natuur.
- Om blare en boombas te skilder
- Om vinnig die doek met verf te bedek
- Om grensdrade, boom takke en ander skerp lyne of rande te skilder
- Om verf te meng op jou palet, en ook handig om op jou meng palet verf afteskraap om plek te maak waar jy nog verf kan meng.
Paletmes werk baie goed vir dikker teksture en om veertjie effek te skilder.
Om harmonie te behou tussen palet mes en kwas
Dit is goed om die paletmes te gebruik saam met ‘n kwas. So kan jy pragtige kontrasterende effekte kry wanneer beide gebruik word.
Maar jy wil ook nie teveel kontras maak nie. Jy wil dat al die verskillende elemente in jou skildery by mekaar pas, en dat daar harmonie is tussen jou paletmes en dit wat jy met die kwas geskilder het.
‘n Tegniek om te gebruik is om die randjies van waar jy met ‘n paletmes gewerk het te versag met ‘n kwas. So skakel die paletmes deel mooi in by die deel wat jy met die kwas geskilder het.
Kies ook watter deel moet dominant wees, of dit wat jy met paletmes skilder, of die deel wat jy met ‘n kwas doen. Moenie dat daar ewe veel van beide is nie, dit kan verwarring skep.
As jy besluit om meestal die paletmes te gebruik in ‘n skildery, kan jy klein deeltjies inbring waar die kwas se tekstuur mooi sigbaar is. Andersom weer, wanneer jy meer die kwas gebruik, gebruik dan die paletmes in klein deeltjies op die skildery.
Al die elemente in die skildery moet saamwerk en een geheel vorm.
- Harmonie tussen paletmes en kwaswerk
Algemene Paletmes wenke
Hier is ‘n paar algemene paletmes wenke:
- Maak seker jy maak die mes skoon na jy dit gebruik het. As jy vergeet om dit te doen, word die verf hard en droog en jy kan die mes nie meer gebruik nie. Jy kan wel probeer om die verf af te krap met ‘n skerp messie, maar soms is dit nie die moeite werd nie.
- Hou jou paletmes aanwendings interessant. Wissel die lengte, kleur en teksture af.
- Dis nie nodig om al die verskillende soorte messies aan te skaf nie. Jy het net die basiese groottes en vorms nodig.
- Die paletmes is handig om verf afteskraap sowel as om verf op die doek aan te wend.
- Met ‘n paletmes verloor jy van die fyner detail, probeer opmaak vir dit met interessante kleurgebruik.
- Die paletmes help met kleurverandering in verskillende vlakke. Byvoorbeeld wanneer jy sonlig wil skilder wat deur donker bome filtreer; hier is die paletmes ‘n handige gereedskap om die spesiale effek te kry.