Ink agtergrond vir potlood en pen skets
Kuns terapie met pen en ink
“There will be new ideas in painting and each idea will have a new technique” Robert Henry
As medium vir kunsterapie is ink ‘n goeie keuse.
Soms het ons nodig om meer vry te werk en net die kleure en teksture te geniet. In hierdie les het jy die vryheid om te eksperimenteer en te kyk hoe kan jy ink gebruik tot jou voordeel.
Kunsterapie werk goed met ink as medium. Die intense kleure laat jou sommer vrolik voel, en die verrassings element van ink wat vloei maak dit ‘n ontspannende en terapeutiese ervaring.
Aan die een kant kan jy dit vry laat vloei, soos met waterverf, en dan weer, het jy ook die opsie om dit meer gekontroleerd te gebruik, ook soos waterverf. Want, net soos met waterverf, vloei die ink slegs waar die oppervlak nat gemaak is.
Hoekom met ink werk terwyl waterverf ‘n medium is wat meer algemeen gebruik word deur kunstenaars?
Ink het pragtige intense kleure, dit word verkoop in klein botteltjies en is dus reeds aangemaak, in teenstelling met waterverf, wat jy self moet ‘n hoeveelheid aanmaak om te gebruik. Ink kan direk uit die botteltjie aangewend word, of met ‘n pipet of kwas op jou oppervlak aangebring word.
‘n Ander voordeel is dat jy dit kan gebruik op papier, karton, waterverfpapier asook voorbereide doek. Daarna kan jy verder werk met akriliese verf of met olieverf om jou kunswerk te voltooi.
Ink kan ook gebruik word om ‘n gemengde medium skildery te maak, asook in jou Visuele dagboek is dit handig om met ink te werk. .
Tekstuur gee lewe aan ‘n skildery, dit laat jou onderwerp werklik lyk. Tekstuur help om ‘n klip glad of grof te laat lyk, vrugte lyk ryp en sappig, kristal en glas weerkaats lig en skitterende kleure. Tekstuur gee karakter aan ‘n onderwerp, dit dra by tot die storie wat die skildery vertel.
Wanneer jy op ‘n doek/canvas met ink wil werk is dit aanbevole dat jy eers die doek met ‘n onderlaag van akriel bedek. Wat mooi is, is om dit met ‘n lekker dik verf te doen en ‘n groot kwas te gebruik, sodat dit alreeds ‘n mooi tekstuur effek gee. Sonder die onderlaag is dit moeilik om ink te verwyder, en regstellings te doen.
Terwyl jy dit doen, kan jy ook stempels of stencils, sleutels, plantmateriaal, plastiek skinkbordlappies met patrone ens. in die nat verf druk om op die manier nog meer interessante teksture te skep.
In hierdie skildery van die boom is sout kristalle gebruik vir ekstra tekstuur. Die agtergrond is gedoen met ink.
Soms kan jy net eenvoudig agtergronde so voorberei, sonder ‘n beplanning, maar ander kere kan jy doelbewus, met jou onderwerp en komposisie in gedagte ; die verskillende teksture gebruik om jou skildery uniek te maak.
Nog ‘n voordeel om met ink te werk is dat dit ‘n maklike manier is om kleure op jou doek te verkry, sodat, wanneer jy begin skilder, daar nie wit gedeeltes orals uitsteek nie.
Dit help ook om op die manier die ys te breek, en net eenvoudig in te spring en te werk,in plaas van ‘n kliniese wit doek te moet bewerk wat jou angstig kan maak.
Tegnieke kan ook baie tyd spaar en uit die verskillende maniere en tegnieke kan jy kies wat die beste by jou onderwerp en persoonlike styl pas. Tegniek is bedoel om jou te help, dit moet nie oordoen word nie, dit kan jou werk komplemênter, nie oorneem nie, en is dan deel van die geheel vir ‘n goed beplande projek.
If I create from the heart, nearly everything works, if from the head, almost nothing – Marc Chagall
Die hele idee met tegniek en tekstuur is dat dit jou kunswoordeskat verryk en jou dus beter in staat stel om jou emosies en gevoelens op doek uit te druk, weereens :gebruik dit om jou te help, nie om jou te hinder nie.
Visuele teksture: Tegnieke vir Waterverf en Akriel:
- Harde rand/Sagte rand:
Maak gedeelte van papier nat, asof jy skilder en laat die res droog. Drup ink in nat gedeeltes. Jy kan ‘n vorm/patroon met water skilder en dan vul met kleure.
Oef. 1: Kies ‘n blomskildery en werk met hierdie tegniek.
Oef. 2: Probeer landskap met dieselfde tegniek.
- Watermerke: Spat met kwassie of tandeborsel skoonwater op agtergrond wat byna droog is, maar nog effens klam voel. As agtergrond nog te nat is gebeur daar niks nie. Die grootte van die watermerk word beïnvloed deur die grootte van die kwas en die hoeveelheid water. Tegniek word gebruik vir blompatrone, sneeu, of sommer net tekstuur.
Oef. 3: Pas tegniek toe op waterverfpapier, asook gewone papier en gebruik verskillende kleure om die effek te toets.
Oef. 4: Berei tenminste 3 agtergronde voor waar jy die tegnieke gebruik, b.v. 1 met neutrale kleure, 1 met warm kleure, 1 met koue kleure. Laat droog word en doen dan pen en /of potlood sketse en tekeninge bo-oor die ink patrone. Om te doodle is baie ontspannend en werk terapeuties.
- Sout kristalle: Hierdie tegniek is baie treffend en effektief. Strooi fyn of growwe sout op gedeeltes wat begin droog word, maar nog wel nat is. Die sout absorbeer die vloeistof en dit vorm mooi patrone. In van die skilderye wat in hierdie artikel geplaas is kan jy dit mooi sien, hoe dit op verskillende maniere gebruik is.
- Bleikmiddel: Gebruik Parker vulpen ink (swart) en spat bleikmiddel met tandeborsel, of gebruik ‘n wattestokkie en verf in ink patrone ens. Bleikmiddel verander die kleur en laat kleure ook verdwyn.