Koperpot met Rose – Paletmes tegniek
Koperpot met Rose
There will be new ideas in painting and each idea will have a new technique”
Robert Henri
Rose bly van die mooiste blomme om te skilder, en veral wanneer die paletmes gebruik word, is die
eindresultaat baie treffend met die duidelike teksture. Hierdie skildery is alla prima geskilder. Die
agtergrond is eerste gedoen met ‘n kwas. Dis beter om jou agtergrond met akriliese verf te doen in ‘n donker kleur vir mooier resultaat. Jy kan dan verder werk met olieverf of met akriliese verf.
- Om die koperpot te skilder gebruik jy wit, chrome yellow, yellow ochre, raw sienna, burnt sienna.
- Teken eers die vorm van die pot, en werk dan van binne na buite. Begin dan met wit streep in die middel van die pot,en werk dan van binne na buite deur wit in die middel, dan aan weerskante met geel, yellow ochre, raw sienna, en burnt umber of sienna kleur aan te bring.
- Doen ook die vermenging van kleure met waaierkwas op die gedeelte onder die pot.
- Daarna voeg jy al die ander kleure aan weerskante van die wit streep op die pot en onder die pot aan, soos jy sien in die demonstrasie video.
- Gebruik dan ‘n waaierkwas om die kleure te meng, sodat dit lyk soos koperpot wat glans.
- Doen dieselfde met waaierkwas op oppervlak onder die pot.
- Vir skaduwee wend jy donkerblou aan op die kante en ook op die oppervlak onder die pot.
Daarna is die detail van die rose, blare met paletmes aangebring.
Om met ‘n paletmes te skilder verg bietjie oefening, jy kan eers op karton probeer tot jy voel jy verstaan hoe die tegniek werk.
Detail van roos met paletmes geskilder.
Daarna kan jy begin om die rose te skilder, gebruik die paletmes en hou dit half skuins teen ‘n hoek.
Gebruik ‘n donkerder kleur en maak eers ‘n silhouet, en doen dan die ligter dele met ‘n ander kleur of ligter skakering. Byvoorbeeld wynrooi monder met pienk gedeeltes wat ligter is, of donkerpers onder met lila ligter gedeeltes. Oranje rose met ligter gedeeltes wat geel is kan ook baie mooi lyk saam met die kleure van die koperpot.
Vir die blare gebruik jy die paletmes plat en wend dan groen, geel en blou verf aan om verskillende blare te maak. Vir die stingels gebruik jy die sykant van die mes, druk dit in groen verf. Werk met verskilllende kleure groen en sorg vir kontras, groot en klein blare, fyn takkies met blare en hou jou werk so interessant om na te kyk. sorg vir afwisseling.
Roosknoppies kan jy maak deur die voorste punt van die paletmes gebruik om liggies ‘n knop mee te maak. Rond die roosknoppies af met groen blaartjies en ‘n stingel, dit kan nie net los in die lug hang nie.
Om die skildery klaar te maak kan jy laventel, wit magrietjies of klein blou blommetjies ook byskilder. Vir volledige demonstrasie kan jy die video wat saam met die les kom kyk. Dit lyk ook mooi as jy met wit verf en ‘n tandeborsel om en oor jou koperpot blommerangskikking fyn spatsels maak om die eindresultaat ‘n bietjie te versag.
Voorbeeld van Koperpot met Rose en Laventel
Variasies: Noudat jy geleer het om ‘n koperpot te skilder, kan jy jou eie variasies op die tema maak. Jy kan ‘n koperkan in die vorm van koffiepot, teepot, outydse keteltjie of teepot skilder. Gebruik ander blomme soos kosmosse, sonneblomme, gekleurde papawers, of net pragtige bloeisels , takke met bessies, of herfsblare om jou koperpot mee te vul.
In hierdie skildery is warm kleure gebruik om die koperpot te komplementeer.