Om jou unieke self te wees

                                       “A work of art which did not begin in emotion is not art” (Paul Cézanne)

 

Hoe kan jy te werk gaan om jou eie unieke styl te ontwikkel?

Wie en wat inspireer jou? Dit is altyd goed om te begin met iets waarvoor jy lief  is, iets wat jy in belangstel, iets wat jy ken.

Dit help baie om op ‘n tema te besluit en dan binne die raamwerk te werk. Dit lyk ook beter as jy sou wou uitstal en jy het ‘n deurlopende tema, of temas, as wat jy teveel rondspring en dit naderhand impak verloor.

Wanneer jy besluit het op ‘n tema of onderwerp, soos b.v. wilde diere, bome, blomme of wat ook al, kan jy begin om net oor die onderwerp referensiemateriaal bymekaar te maak en ook so’n bietjie navorsing te doen. Kies jy b.v. voëls, kan jy op ‘n sekere soort besluit, soos volgens hulle habitat, dieselfde geld vir blomme, doen dan ‘n reeks oor proteas, of rose of veldblomme, werk dus meer gefokus en selektief.

Wanneer jy wil werk kan jy ook begin deur te werk met dit wat jy direk in jou omgewing sien, soos die uitsig deur jou venster, ‘n landskap, die koppies  op die tafel, klere oor ‘n stoel, die kat in die vensterbank, hond op die mat voor die kaggelvuur ens.

Wat jy ook al skilder sal afhang van jou belangstelling, omstandighede, en tipe skildery wat jy wil skilder.

Besluit ook vroegtydig of  jy in portret of landskapformaat gaan werk.

“We see nothing truly till we understand it” John Constable

Kies dus ‘n onderwerp wat jy in belangstel,en wat vir jou interessant is, iets wat jy ken,  kry die gevoel van jou onderwerp, indien moontlik stap om  of in jou onderwerp en :

  • Identifiseer sekere eienskappe: vlakke, kontoere, afstande, struktuur, tipe van plantegroei in landskap ens.
  • Bestudeer ook die invloed van lig: kwaliteit, hoe dit die onderwerp beïnvloed, rigting waar vandaan lig kom, tyd van die dag, weersomstandighede, beweging van wolke, wind ens.
  • Wat is die mees uitstaande, dominante aspek?
  • Wat was dit wat eerste jou aandag getrek het?
  • Gebruik ook die onaantreklike of oninteressante voorwerp en dele.
  • Wat wil jy beklemtoon of uitlig in skildery?
  • Bestudeer die kleure: Is daar ‘n kleurskema of dominante kleur, is die kleurskema warm of koud? Hoe beïnvloed die kleure mekaar?
  • Doen eers ‘n paar potlood- of houtskoolsketse van jou onderwerp
  • Beplanning van komposisie is noodsaaklik.

Dit is wat gaan bepaal wat die inhoud en onderwerp van jou skildery gaan wees, asook of daar dieperliggende betekenis en simboliek in jou werk is.

Kuns is ‘n denkwyse. Dit word ‘n leefwyse om te observeer, en waar te neem en om jou ervaring op doek weer te gee. Jou benadering en jou lewenshouding sal in jou kunswerk uitkom.

Kuns is ‘n belangrike kommunikasiemiddel. Wat wil jy sê? B.v.praat jy oor vrees of liefde, woede en agressie of vrede en aanvaarding?

Wanneer jy kyk na verskillende kunstenaars se werk sal jy oplet dat daar ook sprake is van ‘n proses, eers is dit net ‘n gedagte of idee, iets wat hul aandag trek en inspireer, dan volg ‘n reeks sketse, sommmiges met kleur in b.v. oliepastel, ink of wat ook al naby was om mee te werk en eksperimenteer, en uit die werk groei dan ‘n kunswerk , gewoonlik nie net een nie, want soos wat gewerk word kom daar al hoe meer idees. Om die proses te illustreer is daar ‘n voorbeeld van Marc Chagall ingesluit indie week se kunklas video.. Dit is van sy Jerusalem vensters,dit simboliseer die twaalf stamme van Israel, in stralende kleure, en hulle is ongetwyfeld onder die mees inspirerende kunswerke van die twintigste eeu.  hy het eers gaan navorsing doen oor die twaalf stamme van Israel, en tydens sy werk het hy ook die poësie, passie en geloof in die Bybelverse nooit uit die oog verloor nie.  Die werke is ook op ander plekke uitgestal voordat dit finaal in die pragtige sinagoge van die Hadassah-Hebrew Mediese sentrum  in Jerusalem geïnstalleer is. (Kyk  Kickstart Art Om jou unieke self te wees video)

Doen ‘n persoonlike studie van wat jou inspireer en motiveer. Kuns ontstaan uit die behoefte of begeerte om jou self uit te druk.Dit is dikwyls terapie vir ‘n persoon wat teruggetrokke is en dit moeilik vind om met woorde te kommunikeer. Ons almal word geinspireer en gemotiveer  op verskillende  verskillende maniere

 Kreatiwteitsoefening:

Skildery met 100 kwasbewegings

  • Plaas ‘n bord op papier en trek ‘n groot sirkel.
  • Begin verf met geel, rooi, groen, neutrale kleure en blou
  • Dit is net ‘n nuwe, vars manier om op te warm, kreatiwiteit aan te moedig en vrees vir die wit papier te oorkom.
  • Oefening kan ook saam met iemand gedoen word, neem dan beurte en werk saam tot by 100 kwasstroke.

 

Pin It on Pinterest

Share This

Share This

Share this post with your friends!