Koffie kuns en oliepastel

Hoekom sou jy met koffie wou skilder?

  • Dit is iets anders:. ‘n Kunswerk wat met koffie geskilder is trek die aandag omdat dit ‘n ongewone medium is wat jy gebruik. Dit is dus ‘n goeie manier om jou styl te ontwikkel met iets anders.
  • Mense is baie lief vir koffie Wanneer jy met koffie skilder het jy dadelik die aandag van al wat ‘n koffieliefhebber is, hulle waardeer ‘n kunswerk wat met hul gunsteling drankie geskilder is.
  • Koffie is so ‘n toeganklike medium, dis maklik verkrygbaar:   Kunsbenodigdhede kan nogal duur wees, en nie bekostigbaar vir almal nie. Maar om alledaagse materiaal te gebruik maak bekostigbaar en is dit binne die bereik van meeste mense.
  • Dit is so maklik om mee te werk: Maak ‘n klein houertjie koffie aan, gebruik ‘n skinkbord, werk met ‘n klein sketsboek, en siedaar, jy kan sommer in die tv kamer op jou skoot sit en werk, saam met die res van die gesin, terwyl hulle hul gunsteling program kyk.
  • Dit is sag op die oog: Die subtiele bruin kleure herinner aan sepia kleure en is mooi om vir te kyk. .

Hoe begin jy?

Maak vir jou eers ‘n lekker koppie koffie, geniet die reuk en die heerlike smaak. Om mee te skilder kan jy espresso gebruik wat sterker is, en dus donkerder kleur het. Jy kan ook ‘n oplossing maak van kitskoffie en warm water. Verder gebruik jy waterverf kwassies en waterverf papier of gewone papier. Jy gebruik ook dieselfde tegniek soos vir waterverf. Ek verkies om nie die papier nat te maak nie. Verder sou jy ook eers met wit oliepastel kan teken, en dan met koffie bo-oor skilder. Die plekke waar die wit oliepastel is laat nie die verf klou nie (resist) en so kan jy mooi effekte kry vir tekstuur.

Dis ‘n goeie idee om ‘n sketsboek te gebruik waarin jy net koffie gebruik as medium. Die voordeel is dat dit nie morsig is nie, jy kan enige plek werk. Jy kan selfs wanneer jy reis koffiekuns doen onderweg, of by verskillende plekke wat jy besoek klein sketsies in koffie doen. Gebruik jou verbeelding, jy kan ook ‘n tema kies. Blomme, diere, figure, geboue, noem maar op, daar is nie iets wat jy nie met koffie kan skilder nie. Maak eers liggies ‘n potloodskets en beplan min of meer jou komposise voor jy aan die werk spring.

Wanneer jy patrone skilder kan dit jou help om rustig te word. Jy kan die papier verdeel met ‘n liniaal, of dit vou in segmente. Sommige kunstenaars begin in die middel en werk dan in ‘n sirkel uitwaarts. Maar, jy kan ook in ‘n hoek begin en so die papier vul. Maak dan sirkels, driehoeke, kolle, reguit lyne, hoekige lyne, gekurfde lyne, en vorm so verskillende patrone om die papier mee te vul.

Nog ‘n manier is die “blokke” metode, dit is sommer ‘n lekker manier om terselfdertyd komposise te oefen. Jy kan die blokke vul met verskillende kwastegnieke, of in verskillende blokke klein prentjies te maak van verskillende koffiebekers, blomme, skulpe, blare, sade, skoene of wat ookal. Nog ‘n idee is om  ‘n silhouet te teken, soos van ‘n vis of skoenlapper en dit dan vul met verskillende patrone. Vir donkerder kleur kan jy wag tot die deel droog is, en verskillende lae koffie oormekaar aanwend. Jy kan ook verskillende sterkte mengsels gebruik en so kontras verkry.

Soos jy kan sien is daar net so baie idees as wat daar maniere is om jou koffie te drink. Sterk of flou, maak jou keuse. Gebruik jou verbeelding, ontspan en geniet hierdie vriendelike en toeganklike medium.

Pin It on Pinterest

Share This

Share This

Share this post with your friends!