Wit Calla Lelie Skildery
Die betekenis van die Calla Lelie,of Arum lelie soos dit ook bekend staan is reinheid, onskuld, getrouheid en heilgheid. Wit Calla lelies word algemeen gebruik met Paasfees en word sodoende geassosieer met opstanding en lewe na die dood. Dit is ook hoekom calla lelies gekies word vir begrafnis ruikers en hulle is simbolies vir simpatie en meelewe.
Vir hierdie skildery het jy nodig:
Canvas of stewige papier
Ronde kwas nr 6
Plat kwas nr 8, en ‘n waaierkwassie
Wit, ultramarine, sap groen, geel, yellow ochre akriliese of olieverf
Die skildery werk die beste op ‘n donker agtergrond,soos swart, donkerblou of bruin of ‘n donker groen.
Stappe:
- Teken buitelyne met wit potlood
- Gaan bo-oor buitelyne ,gebruik ronde kwas met blou verf
- Gebruik waaierkwassie en skilder met groen, blou en yellow ochre die blare. Werk met kontoerlyne,dis nie ‘n plat blaar nie
- Gebruik die plat kwas om stingels te skilder, groen, en op die sykant geel, en ander sykant blou vir skaduwee
- Skilder die blomme se kelke met wit, en titsel blou op die kant van die plat kwas.
- Skilder die binnekant van die blom met plat kwas, gebruik wit gemeng met blou en groen vir skaduwee kleur.
- Aksentueer die wit van die blom aan die einde met plat kwas en wit verf.
- Die binneste stamper van die blom word met geel en yellow ochre of bietjie oranje geskilder
Gaan kyk gerus na werke van ou meesters of ander bekende kunstenaars en let op na die onderwerpe om sodoende bogenoemde te sien, m.a.w. die eenvoud van die onderwerp wat met passie geskilder is.
Kies een en doen ‘n reproduksie.
Kleur
Kleur speel ‘n belangrike rol in enige skildery, kleure het definitief ‘n invloed op mekaar, die verhouding tussen lig en donker kleure, asook warm en koue kleure is baie belangrik.
Deur net ‘n bietjie water by kleur te voeg sal die intensiteit van die kleur verander, (word ligter of gryser). Leer dus om kleurpigment te gebruik sonder groot hoeveelhede water, onthou die kleur is in die pigment, nie in die vloeistof nie.
Dan is dit ook so dat kleure ons emosies beïnvloed, dis dus goed om voor die tyd te besin wat jy wil skilder, en let op wat gebeur terwyl jy besig is om te skilder.
Beplanning is goed en nodig, oorbeplanning kan weer fataal wees, omdat daar dan geen ruimte om te eksperimenteer of kreatief te wees gelaat word.
Eerstehandse kennis word hoofsaaklik opgedoen deur dit self te doen, m.a.w. hoe meer jy skilder, hoe meer gaan jy leer watter kleure om te gebruik.
Kleur en Kontras:
- Kleure is lig of donker, warm of koud
- ‘n Donker kleur wat teen ‘n ligte kleur geplaas word dui op ‘n verandering in rigting (Ligte kleure kom vorentoe en donker kleure lyk verder agtertoe)
- ‘n Warm kleur teen ‘n koue kleur wys waar die sonlig is ( warm kleure kom vorentoe), die koel kleure lyk verder weg, en word gebruik om dit wat in die skaduwee is uit te beeld.
- ‘n Warm kleur teen ‘n koue kleur, soos oranje teen blou, is dan ‘n helder, sterk luiddrugtige kleur(oranje) in direkte kontak met ‘n stiller, teruggetrokke kleur (blou)
- Deur komplementêre kleure soos oranje en blou te gebruik kry die skildery lewe, ‘n “hartklop”, die kontras word deur die kunstenaar in die skildery geskep, wanneer dit nie daar is nie, om dit te laat lewe.