Handige Gidslyne om met paletmes te skilder (Deel 1)
‘n Paletmes is nie net ‘n handige gereedskap om te gebruik om verf te meng nie. Jy kan die paletmes gebruik vir verbasend mooie effekte in jou skilderye, wat jy nie met ‘n kwas kan doen nie. Daar is selfs kunstenaars wat slegs paletmesse gebruik en die kwassies helemal eenkant toe geskuif het.
Hier is ‘n gids om jou te help om jou paletmes optimaal te kan benut.
Voor en nadele van paletmes
Hier is ‘n paar voor en nadele van die gebruik van ‘n paletmes.
Voordele:
- Dis so maklik om jou paletmes skoon te maak. Jy vee dit net eenvoudig skoon met ‘n lap of wet-wipe. Dit is soveel makliker as om ‘n kwas skoon te maak met turpentyn en water en seep.
- Dit is bekostigbaar, afhangende van die produk wat jy aankoop.
- Dit werk uitstekend om dikker lae verf op te bou met teksture en om “broken colour” effek te kry.
- Jy kan die sykant van die mes gebruik vir skerp reguit lyne.
- Die breë groot sterk vlakke wat met die mes gemaak word, word gekomplimenteer met die meer delikater en fyner kwashale.
- Jy kan bo-oor nat dele skilder met ‘n paletmes, en hoef nie te bekommer dat die verf meng nie, soos wat met ‘n kwas so maklik gebeur.
Nadele:
- Jy kan nie so akkuraat soos met ‘n kwas werk nie.
- Dis nie so veelsydig soos ‘n kwassie nie.
- ‘n Kwas het ‘n reservoir, en jy kan dus langer werk sonder om weer verf op kwassie te sit. Met ‘n mes moet jy kort kort verf oplaai.
Waarvoor moet jy kyk wanneer jy ‘n paletmes aanskaf
Hieronder is ‘n paar dinge om voor op te let wanneer jy ‘n paletmes wil aankoop:
- ‘n buigbare maar ook stewige lem
- ‘n gerieflike handvatsel
- ‘n lang reguit sykant
Net met ‘n gewone gevormde paletmes kan jy baie ver kom, maar soms sal jy ‘n spesifieke mes wil gebruik. Soos een met reguit bo-kant vir vensters en geboue, of ‘n breë ronde mes vir groter blomblaartjies.
Paletmes tegnieke
Dun lyne
‘n Paletmes kan gebruik word om dun onderbroke lyne te skilder, wat ‘n skildery baie natuurlik laat lyk. Om dit te doen, druk jy die sykant van die mes in die verf en druk dit op die canvas,maak net seker dat die verf eweredig versprei is op die sykant van die mes. Jy sal net een lyn op ‘n slag kan maak, dus het jy nodig om na elke keer weer verf op die sykant van die mes te laai.
Om een kleur in ‘n ander kleur in te trek
Die paletmes kan handig gebruik word wanneer jy harde rande wil verander en die een kleur in die ander kleur wil trek. Die resultaat is ‘n rowwe lyn.Met ‘n kwas sal die resultaat baie sagter wees.
Om verf af te skraap en so regstellings te maak of detail by te voeg.
Hiervoor werk die paletmes uitstekend. Jy kan vinnig verf van die canvas afskraap wanneer jy ‘n fout gemaak het.
Jy kan ook met die paletmes details in die nat verf krap, bv die nerwe van blare kan jy inkrap terwyl die verf nog nat is, of detail van hare met ‘n mes in nat verf krap. Takke van bome kan ook met groot sukses op die manier bygevoeg word. Voor die tyd kan jy onderkleur aanbring, om maksimum resultaat te kan kry.
Meer-kleurige paletmes aanwendings
Hierdie is ‘n baie gewilde tegniek. Neem ‘n paar kleure en meng hul net ‘n bietjie, maar nie deeglik nie. Neem dan jou paletmes en gebruik dit om ‘n dik aanwending van gemengde kleure te maak.
“Scumbling” tegniek
Dit beteken jy wend met plat kant van mes liggies ‘n donkerder of ligter kleur aan, die verf bedek nie die hele oppervlak nie, en stukkies van die onderste kleur wys nog en gee mooi effek. Gebruik byvoorbeeld op die oppervlak van water of wanneer jy variasies in die veld wil skilder.
Om klein kolletjies kleur aan te wend
Vir hierdie tegniek laai jy dik verf op die puntjie van die mes, gewoonlik ‘n sterk helder kleur verf, en maak dan ‘n kolletjie met die mes op die skildery. Gebruik hierdie tegniek later in jou skildery wanneer jy besig is om dit afterond en net hier en daar ekstra kleur wil aanbring in kontrasterende kleur.
“Broken color”
Jy kan pragtige kleur resultate kry, wanneer jy klein deeltjies kleur langsmekaar plaas, sonder dat hul in mekaar vloei, soos wat van die Russiese impressionistiese skilders gemaak het. Dit is onmoontlik om met ‘n kwas reg te kry. Die resultaat is lewendige kleure wat sing.