Oliepastel, thinners en waterverfpotlood tegniek
Die hele idee met tegniek en tekstuur is dat dit jou kunswoordeskat verryk en jou dus beter in staat stel om jou emosies en gevoelens op doek uit te druk, weereens :gebruik dit om jou te help, nie om jou te hinder nie. Matt Tommey verduidelik dit baie mooi, “Wanneer jy net ‘n hammer ken probeer jy alles met ‘n hammer doen, nie net spykers inkap nie, maar ook om skroewe uit te haal en om ‘n plank te saag. Met tegnieke verbreed jy jou kunswoordeskat en kan jy jouself soveel beter uitdruk.”
Daarom dus dat ons verskillende tegnieke probeer en dan kan jy self besluit of jy daarvan hou, en of dit vir jou en jou kunswerke sal kan werk.
Die Oliepastel, thinners en waterverfpotlood tegniek is ‘n heerlike tegniek, dit is baie soos om te mediteer, maak jou rustig, en jy kan dit vir bykans enige onderwerp gebruik. Portrette, blomme, stillewes, diere, en landskappe kan met die Oliepastel, thinners en waterverfpotlood tegniek gedoen word.
Voor jy begin teken, net weer ‘n paar wenke:
- Kies eers eenvoudige onderwerpe
- Leer om waar te neem, te observeer
- Oefen om potlood te gebruik
- Kyk deeglik na onderwerp voor jy begin teken
- As iets jou inspireer: skets dit
- Moenie ‘n skets weggooi nie
- Neem sketsboek soveel moontlik saam na verskillende plekke
- Maak seker jy skets alle inligting wat nodig is
- Maak genoeg kleurnota’s op skets
- Geniet wat jy doen, dit is veronderstel om jou te help
If I create from the heart, nearly everything works, if from the head, almost nothing – Marc Chagall
Oefening vir hierdie week: Potlood gekombineer met Oliepastel.
Voorbeelde: Kingfisher, Suikerbekkie
Jy het nodig:
- Oliepastelle
- Watte
- Thinners
- Potlode en/of Waterverfpotlode
- Stewige papier
- Wit akriliese verf en #1 Kwassie
Metode:
Teken liggies met potlood buitelyne van blomme of voël.
Kyk vir kleurvlakke en teken dit duidelik in.
Kleur nou in met oliepastel, lekker dik, wit gedeeltes moet met wit ingekleur word, vir swart gebruik liewer bruin of gebruik swart baie liggies.
Maak watte nat met Thinners en smeer hele oppervlak sodat hele papier bedek is met kleurlaag.
Teken nou alle detail in met potlood, nie inkleur nie, gebruik arseringstegnieke om die veertjies te laat uitstaan. Werk ook met die negatiewe spasies. Let ook op om nie interessante gedeeltes te verloor nie. Werk laag op laag, werk met meer as een kleur oor mekaar om diepte te verkry.
Fyn wit kolle en strepies kan laastens met Wit akriel verf geskilder word. Indien jy sterker kontras effek nodig het, kan jy oom waterverf gebruik, soos by die Suikerbekkie voorbeeld, en ook die Jan Frederik hieronder gedoen is.
Soos jy by hierdie tyd seker al weet; “Practice makes Perfect”, gebruik jou sketsboek en potlode. Dit mag wees dat dit vir jou moeilik is om ‘n groot skildery te voltooi. Maar jy kan wel ‘n boek vol idees en inspirasie by mekaar maak. probeer dus om vir jouself vinnige sketse met kleurnota’s by te maak en skets soveel as wat jy kan.
Gebruik die Oliepastel, thinners en waterverfpotlood tegniek en probeer verskillende onderwerpe, soos skoene, vrugte, blomme of selfs ‘n portret of twee.
Wenke vir sukses:
- Dit is soms beter om ‘n skildery meer as twee of drie keer te skilder, sodat jy die onderwerp beter kan leer ken en hoe meer jy iets herhaal, hoe meer leer jy en verbeter jy.
- Wees ook bereid om aanvanklik foute te maak en hou aan probeer tot jy die gewenste resultaat kry.
- Paul Cezanne het die berg naby die plek waar hy gebly het 60x geskilder.
- As jy nie tevrede is nie, werk oor die gedeelte tot dit reg is.
- As ‘n kleur nie werk nie, probeer die komplementêre kleur.
- Skilder onderwerpe waarvan jy hou en wat jy ken.
- Gregoire Boonzaaier het gesê dat slegs 1 uit elke 50 werkstukke werklik ‘n goeie poging van hom was. (In sy pakhuis is ong. 17.000 skilderye).
Geniet hierdie Oliepastel, thinners en waterverfpotlood tegniek en wanneer jy ‘n bietjie hiermee gewerk het, kan jy nog idees probeer, en die tegniek op jou manier gebruik en aanpas.