Week 6 Kuns en Potlood Tegnieke

Wat is Kuns?

“Kuns is die vreugdevolle en spontane bewys van die mens se vermoë om uitdrukking te kan gee aan sy diep gevoelens van skoonheid, orde, lewe en liefde” (Vicci Sperry)

“n Kunswerk is die uitdrukking van ‘n idee, dit reflekteer die bewuste en onbewuste denke van die kunstenaar. Kuns is nie die resultaat van ‘n produksielyn nie, dit kan nie deur ‘n masjien gemaak word nie. Ware kuns is nooit koud, leweloos of stereotiep nie. Goeie kuns, soos goeie musiek werk bevrydend.

‘n Digter gebruik taal en spraak. ‘n Kunstenaar se gereedskap is visueel. Die kunstenaar gebruik alles tot sy beskikking om sy emosie uit te beeld. Sy insig in kleur verhoudings groei dieper en dieper soos wat hy werk. Jy kan self besluit hoe jy die verf gaan aanwend tot jy tevrede is. Jy kan aanhou aan jou werk verander of heeltemal iets nuuts maak. Die moontlikhede is onbeperk.

Ons is nie onder druk om ‘n voltooide werkstuk te lewer nie, ons leer soos wat ons werk. Die regte gesindheid is om soos ‘n kind jouself toe te laat om die ondervinding te geniet. Ons begin met ‘n skoon wit doek, net dit wat in jou gedagtes en emosies is kan gebeur op jou doek. Besinning voor jy begin help om probleme op te los en berei die weg vir kommunikasie deur jou kuns.

Die besluit om kuns deel van jou lewe te maak is soos om op ‘n reis te gaan. Dit word ‘n leefstyl. Net soos enige reis wat ons onderneem berei ons voor. Ons gaan begin met teken, en dit gaan pret wees. Baie van die oefeninge is bedoel om jou weer soos in jou kinderdae te laat geniet van wat jy doen. Die volgende stap is om dit wat jy nodig het vir hierdie pret oefeninge bymekaar te maak

  • Potlode: tenminste 6 verskillendes, soos 2B, 4B ens, daarmee saam ‘n skerpmaker en uitveër.
  • Houtskool: houtskoolpotlode asook houtskoolstokkies.
  • ‘n Blik fixatief wat jou houtskool en pastelwerk ‘n beskermende laag gee (Haarsproeimiddel kan ook werk).
  • Ink, akriliese ink werk goed en is bekostigbaar, (Swart, bruin, groen, geel, rooi, blou, turquoise)
  • Waterverf: koop ‘n klein stelletjie met 12 kleure
  • Kwassies: 1 ronde klein kwassie, 1 ronde groter kwassie, en ek vind ‘n plat kwas onmisbaar.
  • Spuitbotteltjie om met water te vul en projekte en verf nat te hou terwyl jy werk.
  • Waterverfpotlode (12 kleure)
  • Oliepastelle, met dit kan jy wondere verrig, hou sommer klein botteltjie terpentyn ook byderhand
  • Papier, skêr en gom

Tekening van deur

 

Wenk: Konsentreer om vir jou onderwerp te kyk, nie te veel vir die papier nie. Let op na vorms, patrone en teksture. Beweeg jou hand lossies, hou dus pen verder na agter toe vas. Dit voel miskien bietjie moeilik aan die begin, maar dit gaan jou help met spontane en vry lyne.

Potloodtegnieke

Potlood is jou beste leermeester. Potlood tegnieke is belangrik sodat jy die beginsel van toonwaardes kan verstaan. In ‘n skildery werk ons met verskillende toonwaardes, jy kan dit vergelyk met ‘n fliek, waar daar hoofrolspelers en byspelers is. Alles word nie in dieselfde toonwaarde geskilder nie Al die tegnieke wat ons met potlood gebruik, soos in oefening 2 word ook vir pen en ink, waterverf, pastel, houtskool en ander mediums gebruik.

Praktiese Oefeninge Week 6

Jy het nodig: Drie potlode, HB, 2B en 4 of 6B Sagte uitveër Tekenpapier A3 grootte of ‘n sketsboek ‘n Tekenbord of plank

Oefening 1:

Maak ‘n “toonleer” wat uit 9 blokke bestaan, van lig na donker met potlood. Begin met die ligste blok links en werk laag op laag met potlood om steeds donkerder skakering te verkry. (3 blokkies met HB, 3 met 2B en 3 met 4 of 6B)

Oefening 2:

Maak reghoeke van 3 x 3 cm en doen verskillende tegnieke soos in voorbeeld hieronder.

Teken tegnieke

Oefening 3:

Geheue oefening:

Teken sonder om na regte voorwerp te kyk ‘n skêr, wasgoedpennetjie, leesbril. (om werklik te baat by hierdie oefening werk slegs van geheue.)

Hierdie spesifieke oefening is bedoel om te wys dat enige kunstenaar kyk vir wat hy sien en juis nie altyd op sy geheue staatmaak nie. Dit is ‘n mite dat ‘n goeie kunstenaar alles uit sy kop uit kan doen! As jy op jou geheue moet staatmaak werk jy nie altyd akkuraat nie, vergeet jy detail en kan die verhoudings verkeerd wees.

Wenk: Sit gemaklik waar jy jou onderwerp kan sien sonder om jou kop te draai. Jou oë moet maklik kan beweeg vanaf jou onderwerp en die papier. Spandeer meer tyd om vir jou onderwerp te kyk as om dit te teken.

Oefening 4

Kies een van die voorbeelde in die klas en teken die boom, maar gebruik van die tegnieke soos wat jy dit in die video gesien het.

 

 

 

 

 

Pin It on Pinterest

Share This

Share This

Share this post with your friends!