Kingfisher met Oliepastel, thinners en waterverfpotlood tegniek.
Oliepastel, thinners en waterverfpotlood tegniek
Die hele idee met tegniek en tekstuur is dat dit jou kunswoordeskat verryk en jou dus beter in staat stel om jou emosies en gevoelens op doek uit te druk, weereens :gebruik dit om jou te help, nie om jou te hinder nie. Matt Tommey verduidelik dit baie mooi, “Wanneer jy net ‘n hammer ken probeer jy alles met ‘n hammer doen, nie net spykers inkap nie, maar ook om skroewe uit te haal en om ‘n plank te saag. Met tegnieke verbreed jy jou kunswoordeskat en kan jy jouself soveel beter uitdruk.”
Daarom dus dat ons verskillende tegnieke probeer en dan kan jy self besluit of jy daarvan hou, en of dit vir jou en jou kunswerke sal kan werk.
Die Oliepastel, thinners en waterverfpotlood tegniek is ‘n heerlike tegniek, dit is baie soos om te mediteer, maak jou rustig, en jy kan dit vir bykans enige onderwerp gebruik. Portrette, blomme, stillewes, diere, en landskappe kan met die Oliepastel, thinners en waterverfpotlood tegniek gedoen word.
Voor jy begin teken, net weer ‘n paar wenke:
- Kies eers eenvoudige onderwerpe
- Leer om waar te neem, te observeer
- Oefen om potlood te gebruik
- Kyk deeglik na onderwerp voor jy begin teken
- As iets jou inspireer: skets dit
- Moenie ‘n skets weggooi nie
- Neem sketsboek soveel moontlik saam na verskillende plekke
- Maak seker jy skets alle inligting wat nodig is
- Maak genoeg kleurnota’s op skets
- Geniet wat jy doen, dit is veronderstel om jou te help
If I create from the heart, nearly everything works, if from the head, almost nothing – Marc Chagall
Suikerbekkie en Aronslelie
Oefening vir hierdie week: Potlood gekombineer met Oliepastel.
Voorbeelde: Kingfisher, Suikerbekkie
Jy het nodig:
- Oliepastelle
- Watte
- Thinners
- Potlode en/of Waterverfpotlode
- Stewige papier
- Wit akriliese verf en #1 Kwassie
Metode:
Teken liggies met potlood buitelyne van blomme of voël.
Kyk vir kleurvlakke en teken dit duidelik in.
Kleur nou in met oliepastel, lekker dik, wit gedeeltes moet met wit ingekleur word, vir swart gebruik liewer bruin of gebruik swart baie liggies.
Maak watte nat met Thinners en smeer hele oppervlak sodat hele papier bedek is met kleurlaag.
Teken nou alle detail in met potlood, nie inkleur nie, gebruik arseringstegnieke om die veertjies te laat uitstaan. Werk ook met die negatiewe spasies. Let ook op om nie interessante gedeeltes te verloor nie. Werk laag op laag, werk met meer as een kleur oor mekaar om diepte te verkry.
Fyn wit kolle en strepies kan laastens met Wit akriel verf geskilder word. Indien jy sterker kontras effek nodig het, kan jy oom waterverf gebruik, soos by die Suikerbekkie voorbeeld, en ook die Jan Frederik hieronder gedoen is.
Jan Frederik Oliepastel en thinners tegniek, afgerond met waterverf en waterverfpotlood.
Soos jy by hierdie tyd seker al weet; “Practice makes Perfect”, gebruik jou sketsboek en potlode. Dit mag wees dat dit vir jou moeilik is om ‘n groot skildery te voltooi. Maar jy kan wel ‘n boek vol idees en inspirasie by mekaar maak. probeer dus om vir jouself vinnige sketse met kleurnota’s by te maak en skets soveel as wat jy kan.
Gebruik die Oliepastel, thinners en waterverfpotlood tegniek en probeer verskillende onderwerpe, soos skoene, vrugte, blomme of selfs ‘n portret of twee.
Wenke vir sukses:
- Dit is soms beter om ‘n skildery meer as twee of drie keer te skilder, sodat jy die onderwerp beter kan leer ken en hoe meer jy iets herhaal, hoe meer leer jy en verbeter jy.
- Wees ook bereid om aanvanklik foute te maak en hou aan probeer tot jy die gewenste resultaat kry.
- Paul Cezanne het die berg naby die plek waar hy gebly het 60x geskilder.
- As jy nie tevrede is nie, werk oor die gedeelte tot dit reg is.
- As ‘n kleur nie werk nie, probeer die komplementêre kleur.
- Skilder onderwerpe waarvan jy hou en wat jy ken.
- Gregoire Boonzaaier het gesê dat slegs 1 uit elke 50 werkstukke werklik ‘n goeie poging van hom was. (In sy pakhuis is ong. 17.000 skilderye).
Geniet hierdie Oliepastel, thinners en waterverfpotlood tegniek en wanneer jy ‘n bietjie hiermee gewerk het, kan jy nog idees probeer, en die tegniek op jou manier gebruik en aanpas.
Inspirasie kleuroefening
Kollage met waterverfpotlood
Inspirasie is wat ons help om aan die gang te kom, dit motiveer ons om te begin werk aan ‘n nuwe projek, skildery of skets. Is daar oefeninge wat kan help om inspirasie te bevorder? Verseker, en die manier waarop jy inspirasie ontvang en verwerk sal verskil van mens tot mens.
Hierdie week werk ons met ‘n kleuroefening, wat terselfdertyd ook ‘n inspirasie oefening is. Dit is ‘n prettige manier om jou vaardigheid om kleure te meng te verbeter. Werk ook goed as ‘n manier om “artist block” te oorkom. Verder kan jy dit toepas deur prente uit te knip en in jou visuele dagboek te plak, sodat jy nie op ‘n spierwit intimiderende wit bladsy hoef te begin nie.
Daar is ‘n hele paar variasies waarop jy hierdie inspirasie oefening kan doen.
- Plak in jou sketsboek klein foto’s, dit spaar tyd sodat wanneer jy ‘n kans kry om kreatief te wees, jy direk jou sketsboek of visuele dagboek kan uithaal en iets kies waarmee jy wil werk.
- Die foto hoef nie volledige onderwerp op te he nie, dit kan ‘n deel van iets bevat, sodat jy die res self voltooi.
- Hierdie inspirasie oefening kan jy doen wanneer jy op reis is, en byvoorbeeld moet wag vir jou vlug op ‘n lughawe.
- Dra ‘n klein sakkie met kunsbenodighede by jou, onder andere ‘n klein A5 sketsboekie waarin jy fototjies geplak het,. Dan het jy iets om te doen wanneer jy moet wag vir ‘n afspraak of ander oponthoud het, of terwyl jy ‘n televisie program kyk. .
- Gebruik verskillende mediums soos pen, potlood, kleurpotlode, wat dit vir jou moontlik maak om enige plek te kan werk.
- Variasie op die tema is om ‘n foto in dele te sny, en dan tussen die dele met kleure te werk, soos die foto hierbo.
- Jy kan ook aanhalings byskryf, of jou belewenis van die oomblik, of iets wat vir jou uitstaan of jou getref het op die foto.
Hoe om te werk te gaan:
Kies ‘n foto of twee waarvan jy hou, skeur of sny dit uit en plak in jou sketsboek. Begin om waar die foto ophou verder te skilder.
As Kleuroefening:
- Kies ‘n foto of twee waarvan jy hou, skeur of sny dit uit en plak in jou sketsboek.
- Gebruik die medium van jou keuse en begin om waar die foto ophou verder te skilder.
- Hierdie oefening is ‘n uitstekende oefening om jou verbeelding te prikkel, en dit help jou ook om van die foto af te wyk, dus om meer vry te kan werk.
- Verder is dit ‘n uitstekende oefening om te kan kleure meng. Die idee is dat jy slegs die primêre kleure, rooi, wit, geel, jy mag ook oker geel byvoeg, swart en wit verf gebruik om die kleure so te meng dat jy amper nie kan sien waar die foto is nie.
- Werk ook oor dele binne in die foto sodat alles saamsmelt en een geheel vorm.
Meer oor toepassing van Kleure
Komplimentêre Kleure:
Dit is die kleure wat reg oormekaar op die kleurwiel lê: Rooi – Groen, Blou – Oranje, Geel – Pers.
Wanneer ons skilder en ons kleure wil demp, of skaduwee insit kan ons swart by sit, maar dit kan die werk leweloos maak. Meng jy sommer enige kleur by, word die werk modderig. Dit is beter om die kleur se komplementêre kleur by te meng, en die resultaat is dat kleure sing.. Met Waterverf sal ons b.v. oor ‘n geel piesang ‘n ligte laag pers aanwend vir skaduwee, oor ‘n rooi appel ‘n ligte deurskynende laag groen vir skaduwee.
Die komplementêre kleur laat die kleur ook sterker vertoon, kleure word langs mekaar geplaas, b.v. ‘n streep blou langs oranje verdiep die kleur.
Variasies van Inspirasie oefening:
Potloodskets variasie
- Vir variasie kan jy dit ook met pen, potlood, waterverfpotlood ens doen.
- Nog ‘n variasie is om die foto wat jy gekies het horisontaal of vertikaal in repe te sny en die dele los van mekaar vas te plak. Werk dan tussenin met kleurpotlood, pen of waterverf om dit in ‘n kunswerk te verander.
- Die oefening help ook om wanneer jy voel jy het nie inspirasie nie, net ‘n begin te maak en aan die werk te kom.
- Jy kan ook ou kalenders of ander groot prente gebruik en direk op dit teken, soos in die voorbeelde hieronder.
Waterverf as medium gebruik vir inspirasie oefening.
Week 28 Keuse van Onderwerp
Seker een van die moeilikste besluite om te neem is om jou onderwerp te kies. Daar is soveel wat mooi, skilderagtig, en kleurvol is…
Dit help baie om vir jou ‘n tema te kies. En dan kan jy dit selfs nog meer verfyn, soos wanneer jy Portrette as tema sou kies, kan jy in verskillende kategorië werk: Musikante, mense wat lees, kinders, kinders met hul troeteldiere, karaktervolle ouer persone se portretstudies, en so gaan die lysie aan.
Jy kan aan een of meer tema tegelykertyd werk. Gebruik ook verskillende mediums, en gaan leer by die Ou Meesters hoe hulle jou onderwerp geskilder het. Gebruik verskillende benaderings, en neem self baie foto’s!
Dit is altyd goed om te begin met iets waarvoor jy lief is, iets wat jy in belangstel, iets wat jy ken. Dit gebeur dikwels dat jy tyd het en lus is om ‘n skildery te begin, maar jy weet nie wat nie. Wanneer jy eers in boeke en tydskrifte of op die internet begin soek vir iets is jy naderhand so deurmekaar, want die een ding lyk mooier as die ander en jou vingers juk behoorlik om te begin.
Dit kan dan veroorsaak dat jy met iets begin, halfpad teleurgesteld of moedeloos raak met jou poging, volgende ding begin, weer ophou ens.
Dit help baie om op ‘n tema te besluit en dan binne die raamwerk te werk. Dit lyk ook beter as jy sou wou uitstal en jy het ‘n deurlopende tema, of temas, as wat jy teveel rondspring en dit naderhand impak verloor.
Blomme as tema kan op baie maniere toegepas word
Wanneer jy besluit het op ‘n tema of onderwerp, soos b.v. wilde diere, bome, blomme of wat ook al, kan jy begin om net oor die onderwerp referensiemateriaal bymekaar te maak en ook so’n bietjie navorsing te doen. Kies jy b.v. voëls, kan jy op ‘n sekere soort besluit, soos volgens hulle habitat, dieselfde geld vir blomme, doen dan ‘n reeks oor proteas, of rose of veldblomme, werk dus meer gefokus en selektief.
Voëls as tema
Wanneer jy wil werk kan jy ook begin deur te werk met dit wat jy direk in jou omgewing sien, soos die uitsig deur jou venster, ‘n landskap, die koppies op die tafel, klere oor ‘n stoel, die kat in die vensterbank, hond op die mat voor die kaggelvuur ens.
Wat jy ook al skilder sal afhang van jou belangstelling, omstandighede, en tipe skildery wat jy wil skilder.
Besluit ook vroegtydig of jy in portret of landskapformaat gaan werk.
“We see nothing truly till we understand it” John Constable
.Kies dus ‘n onderwerp wat jy in belangstel,en wat vir jou interessant is, iets wat jy ken, kry die gevoel van jou onderwerp, indien moontlik stap om of in jou onderwerp en :
- Identifiseer sekere eienskappe: vlakke, kontoere, afstande, struktuur, tipe van plantegroei in landskap ens.
- Bestudeer ook die invloed van lig: kwaliteit, hoe dit die onderwerp beïnvloed, rigting waar vandaan lig kom, tyd van die dag, weersomstandighede, beweging van wolke, wind ens.
- Wat is die mees uitstaande, dominante aspek?
- Wat was dit wat eerste jou aandag getrek het?
- Gebruik ook die onaantreklike of oninteressante voorwerp en dele.
- Wat wil jy beklemtoon of uitlig in skildery?
- Bestudeer die kleure: Is daar ‘n kleurskema of dominante kleur, is die kleurskema warm of koud? Hoe beïnvloed die kleure mekaar?
- Doen eers ‘n paar potlood- of houtskoolsketse van jou onderwerp
- Beplanning van komposisie is noodsaaklik.
Die skilderytjie hierbo is deel van die “Daily Painting reeks”. Die idee is om ‘n klein en vinnige skilderytjie elke dag te skilder, van iets in en om jou huis. Jy sal miskien nie elke dag kan skilder nie, maar wat van ‘n klein “Daily Sketch” elke dag?
Wenke:
- Kies ‘n basiese kleurpalet of kleurharmonie om te gebruik.
- Konsentreer op die geheelbeeld en hou dit ongekompliseerd en eenvoudig
- Gebruik wat jy in jou onderwerp het, moenie probeer om dit te versier nie.
- Stop sodra jy gesê het wat jy wou.
Oefening
Wat sou jy graag wou kies as jou tema en opverskillende maniere skilder? Begin om voor te berei vir skildery van eie keuse in medium van eie keuse.Geniet dit, al is eindproduk miskien nie heeltemal wat jy in gedagte gehad het nie,sien dit as ‘n proses.En begin sommer werk aan volgende skildery!
Die mooi en die lelik, hoe werk dit?
Olieverf palet, ‘n kunswerk op sy eie
“Hoekom lyk my skildery nooit so mooi as die onderwerp nie???
Dit gebeur maklik dat ons dink dat wanneer ons iets kies om te skilder wat mooi en pragtig lyk, ons projek ook outomaties moet goed lyk en treffend wees, maar in praktyk is dit ongelukkig nie altyd so maklik nie, soos meeste van ons tot groot frustrasie en teleurstelling reeds ontdek het.
Dit is natuurlik om geïnspireer te word deur iets wat baie mooi vertoon, maar selfs die doodgewone, onopvallende in die leefwêreld om ons kan in ‘n pragtige skildery omskep word.
Die geheim lê daarin om iets raak te sien en dan ‘n bietjie “magic” d.m.v. komposisie, kleur en tegniek by te voeg om sodoende iets te skilder wat werklik treffend is.
Wanneer ons dus vir dinge om ons kyk moet ons bietjie verder en dieper kyk, nie net die “shopping-list” van twee bome, ‘n huisie, ‘n stroompie en paadjie nie.
Ons kan die vaardigheid ontwikkel om sekere rangskikkings en balans op te let, b.v. die hele lig en donker rangskikking in ‘n toneel, of die kleurbalans, of die opvallende vorms.
Die manier waarop lig val op ‘n onderwerp het ‘n belangrike invloed
En ‘n onderwerp wat deur sonlig verlig word gaan baie beter vertoon as iets op ‘n bewolkte dag.
Ode to a sleepy town – Helena van der Nest
Stap 1 na ‘n suksesvolle werkstuk is dus om ‘n balans te probeer kry tussen lig en donker.
Stap 2 is om die gevoel wat jy wil oordra met die regte kleurpalet te probeer vaslê.
Stap 3 is om wanneer jy vir ‘n toneel kyk, en jou oog probeer om alles waar te neem, meer as wat nodig is, veral as jy nog jou kop ook draai van die een kant na die ander kant, en jy dus half oorweldig kan word met detail, om te fokus op ‘n afgeperkte area. Hier kan ‘n “soekraam” baie help. Maak self een deur ‘n reghoek uit ‘n poskaartgrootte karton te sny. Met ‘n soekraam baken jy vir jou ‘n area af, wat direk om jou onderwerp is, om soveel as moontlik onnodige detail uit te skakel. Dit is baie makliker om te sien hoe jou skildery gaan lyk, asook om ‘n komposisie uit te werk, met ‘n soekraam.
Stap 4 is om ‘n klein voorbereidende beplanningsskets te maak, om sodoende die verskillende moontlikhede vankomposisie en kleurpalet te toets.
Stap 5:Dit help om in die plek van voorwerpe eerder op te let na die verskillende vorms van die voorwerpe, of groepe voorwerpe. So kan ‘n driehoek vorm ‘n enorme wonderlike element in jou skildery wees, wat die skildery iets besonders en uitstaande kan maak. Dink b.v. ook aan scaffolding by ‘n bouprojek, dit klink nie na ‘n mooi onderwerp nie, maar dit gaan vir jou baie verskillende horisontale en vertikale elemente gee, asook ‘n wonderlike patroon om jou skildery op te baseer. ‘n Gebuigde lyn, “curve”, is ook ‘n vorm idee wat goed kan werk. Gebuigde lynelemente kry ons in wolke, boom vorms, en landskappe. Die poësie van patroon en energie van herhalende vorms moet nie onderskat word nie.
Stap 6:Sommige kunstenaars gebruik kleur passievol as die hoof bestanddeel van hul werk. (Colourists). Hulle verskuif grense, gebruik onverwagte kleure saam vir verhoudings ens. Hulle is meer geïnteresseerd in die atmosfeer van die kunswerk as met die visuele werklikheid. Hulle is meesters daarin om ‘n simfonie van kleur op die skilderdoek te skep. Deur kleur kreatief en verbeeldingryk aan te wend kan die mees eenvoudige, nederige onderwerp in ‘n skitterende juweel omskep word
Stap 7:Om mee af te sluit: ‘n Goeie skrywer doen veel meer dan om net ‘n paar woorde in sinne te verwerk. Hy of sy weef ‘n hele storie met woorde, om die boodskap oor te dra. ‘n Musikant doen veel meer dan om net klank voort te bring, die klank is in patrone en ritmes om ‘n storie te vertel.
Daarom is dit absoluut noodsaaklik dat ‘n kunstenaar ook veel meer moet doen as om bloot net ‘n weergawe van ‘n onderwerp te skilder.’n Skildery kan meer wees as net ‘n perfekte weergawe. Ons kunstenaars kan met kwas, kleur, komposisie, patrone, tegnieke ens. ‘n hele storie vertel. Dan sal ons skilderye insiggewend en treffend wees, maak nie saak wat die onderwerp is.
Bron:The Artist November 2002 Jackie Simmonds
Handige Gidslyne om met paletmes te skilder (deel 2)
Algemene gebruik vir die paletmes:
Hier is ‘n paar idees waarvoor jy die paletmes kan gebruik:
- Skilder ligpunte op rotse
- Skilder sneeu op toppe van berge
- Om teksture op te bou in die voorgrond, skep teksture van klippe, gras en ander elemente in die natuur.
- Om blare en boombas te skilder
- Om vinnig die doek met verf te bedek
- Om grensdrade, boom takke en ander skerp lyne of rande te skilder
- Om verf te meng op jou palet, en ook handig om op jou meng palet verf afteskraap om plek te maak waar jy nog verf kan meng.
Paletmes kan gebruik word vir berge, boombas, blare, teksture in voorgrond.
Paletmes werk baie goed vir dikker teksture en om veertjie effek te skilder.
Om harmonie te behou tussen palet mes en kwas
Dit is goed om die paletmes te gebruik saam met ‘n kwas. So kan jy pragtige kontrasterende effekte kry wanneer beide gebruik word.
Maar jy wil ook nie teveel kontras maak nie. Jy wil dat al die verskillende elemente in jou skildery by mekaar pas, en dat daar harmonie is tussen jou paletmes en dit wat jy met die kwas geskilder het.
‘n Tegniek om te gebruik is om die randjies van waar jy met ‘n paletmes gewerk het te versag met ‘n kwas. So skakel die paletmes deel mooi in by die deel wat jy met die kwas geskilder het.
Kies ook watter deel moet dominant wees, of dit wat jy met paletmes skilder, of die deel wat jy met ‘n kwas doen. Moenie dat daar ewe veel van beide is nie, dit kan verwarring skep.
As jy besluit om meestal die paletmes te gebruik in ‘n skildery, kan jy klein deeltjies inbring waar die kwas se tekstuur mooi sigbaar is. Andersom weer, wanneer jy meer die kwas gebruik, gebruik dan die paletmes in klein deeltjies op die skildery.
Al die elemente in die skildery moet saamwerk en een geheel vorm.
- Harmonie tussen paletmes en kwaswerk
Algemene Paletmes wenke
Hier is ‘n paar algemene paletmes wenke:
- Maak seker jy maak die mes skoon na jy dit gebruik het. As jy vergeet om dit te doen, word die verf hard en droog en jy kan die mes nie meer gebruik nie. Jy kan wel probeer om die verf af te krap met ‘n skerp messie, maar soms is dit nie die moeite werd nie.
- Hou jou paletmes aanwendings interessant. Wissel die lengte, kleur en teksture af.
- Dis nie nodig om al die verskillende soorte messies aan te skaf nie. Jy het net die basiese groottes en vorms nodig.
- Die paletmes is handig om verf afteskraap sowel as om verf op die doek aan te wend.
- Met ‘n paletmes verloor jy van die fyner detail, probeer opmaak vir dit met interessante kleurgebruik.
- Die paletmes help met kleurverandering in verskillende vlakke. Byvoorbeeld wanneer jy sonlig wil skilder wat deur donker bome filtreer; hier is die paletmes ‘n handige gereedskap om die spesiale effek te kry.
Paletmes tegniek kreatiewe oefening
Handige Gidslyne om met paletmes te skilder (Deel 1)
‘n Paletmes is nie net ‘n handige gereedskap om te gebruik om verf te meng nie. Jy kan die paletmes gebruik vir verbasend mooie effekte in jou skilderye, wat jy nie met ‘n kwas kan doen nie. Daar is selfs kunstenaars wat slegs paletmesse gebruik en die kwassies helemal eenkant toe geskuif het.
Hier is ‘n gids om jou te help om jou paletmes optimaal te kan benut.
Voor en nadele van paletmes
Hier is ‘n paar voor en nadele van die gebruik van ‘n paletmes.
Voordele:
- Dis so maklik om jou paletmes skoon te maak. Jy vee dit net eenvoudig skoon met ‘n lap of wet-wipe. Dit is soveel makliker as om ‘n kwas skoon te maak met turpentyn en water en seep.
- Dit is bekostigbaar, afhangende van die produk wat jy aankoop.
- Dit werk uitstekend om dikker lae verf op te bou met teksture en om “broken colour” effek te kry.
- Jy kan die sykant van die mes gebruik vir skerp reguit lyne.
- Die breë groot sterk vlakke wat met die mes gemaak word, word gekomplimenteer met die meer delikater en fyner kwashale.
- Jy kan bo-oor nat dele skilder met ‘n paletmes, en hoef nie te bekommer dat die verf meng nie, soos wat met ‘n kwas so maklik gebeur.
Nadele:
- Jy kan nie so akkuraat soos met ‘n kwas werk nie.
- Dis nie so veelsydig soos ‘n kwassie nie.
- ‘n Kwas het ‘n reservoir, en jy kan dus langer werk sonder om weer verf op kwassie te sit. Met ‘n mes moet jy kort kort verf oplaai.
Waarvoor moet jy kyk wanneer jy ‘n paletmes aanskaf
Hieronder is ‘n paar dinge om voor op te let wanneer jy ‘n paletmes wil aankoop:
- ‘n buigbare maar ook stewige lem
- ‘n gerieflike handvatsel
- ‘n lang reguit sykant
Net met ‘n gewone gevormde paletmes kan jy baie ver kom, maar soms sal jy ‘n spesifieke mes wil gebruik. Soos een met reguit bo-kant vir vensters en geboue, of ‘n breë ronde mes vir groter blomblaartjies.
Paletmes tegnieke
Dun lyne
‘n Paletmes kan gebruik word om dun onderbroke lyne te skilder, wat ‘n skildery baie natuurlik laat lyk. Om dit te doen, druk jy die sykant van die mes in die verf en druk dit op die canvas,maak net seker dat die verf eweredig versprei is op die sykant van die mes. Jy sal net een lyn op ‘n slag kan maak, dus het jy nodig om na elke keer weer verf op die sykant van die mes te laai.
Om een kleur in ‘n ander kleur in te trek
Die paletmes kan handig gebruik word wanneer jy harde rande wil verander en die een kleur in die ander kleur wil trek. Die resultaat is ‘n rowwe lyn.Met ‘n kwas sal die resultaat baie sagter wees.
Om verf af te skraap en so regstellings te maak of detail by te voeg.
Detail in bak en in die voorgrond is aangebring deur met mes in verf te skraap.
Hiervoor werk die paletmes uitstekend. Jy kan vinnig verf van die canvas afskraap wanneer jy ‘n fout gemaak het.
Jy kan ook met die paletmes details in die nat verf krap, bv die nerwe van blare kan jy inkrap terwyl die verf nog nat is, of detail van hare met ‘n mes in nat verf krap. Takke van bome kan ook met groot sukses op die manier bygevoeg word. Voor die tyd kan jy onderkleur aanbring, om maksimum resultaat te kan kry.
Meer-kleurige paletmes aanwendings
Verskillende pienke is op die mes gebruik vir die veertjies
Hierdie is ‘n baie gewilde tegniek. Neem ‘n paar kleure en meng hul net ‘n bietjie, maar nie deeglik nie. Neem dan jou paletmes en gebruik dit om ‘n dik aanwending van gemengde kleure te maak.
“Scumbling” tegniek
Dit beteken jy wend met plat kant van mes liggies ‘n donkerder of ligter kleur aan, die verf bedek nie die hele oppervlak nie, en stukkies van die onderste kleur wys nog en gee mooi effek. Gebruik byvoorbeeld op die oppervlak van water of wanneer jy variasies in die veld wil skilder.
Om klein kolletjies kleur aan te wend
Vir hierdie tegniek laai jy dik verf op die puntjie van die mes, gewoonlik ‘n sterk helder kleur verf, en maak dan ‘n kolletjie met die mes op die skildery. Gebruik hierdie tegniek later in jou skildery wanneer jy besig is om dit afterond en net hier en daar ekstra kleur wil aanbring in kontrasterende kleur.
“Broken color”
Jy kan pragtige kleur resultate kry, wanneer jy klein deeltjies kleur langsmekaar plaas, sonder dat hul in mekaar vloei, soos wat van die Russiese impressionistiese skilders gemaak het. Dit is onmoontlik om met ‘n kwas reg te kry. Die resultaat is lewendige kleure wat sing.