Week 31 Art Escape bevorder jou Kreatiwiteit Deel 1

IMG 20201013 110326 » Week 31 Art Escape bevorder jou Kreatiwiteit Deel 1 » Helena van der Nest-Strijdhorst

Kleurvolle palet vir inspirasie

Hoe kan jy kreatiwiteit bevorder….

As jy ’n beginner is wat graag meer soos ‘n kreatiewe kunstenaar wil wees…
Of ‘n kunstenaar wat meer kreatief wil wees… Of ‘n kreatiewe kunstenaar wat geblok voel…

Hier is ‘n geleentheid wat jy nie moet mis nie:

‘n Kreatiwiteitsessie met oefeninge en inspirasie om kreatiwiteit en kunssinnige selfvertroue te ontwikkel.

Kies vir Kreatiwiteit:

Kreatiewe mense is nuuskierig, aanpasbaar, onafhanklik en vasberade, met ‘n enorme gevoel vir avontuur, hulle hou van speel. Kreatiewe persone luister vir hul intuïsie, hul luister wat hul hart sê.

Intuïsie en kreatiwiteit is binne-in jou, maar jy het nodig om jou kreatiewe gees wakker te maak. Gee aandag. Vertrou jouself. Ontwikkel en versterk die eienskappe binne jou en reik uit na jou kreatiewe potensiaal.  Hierdie idees gaan jou help om jou kreatiwiteit te bevorder. .

Jy is gebore om kreatief te wees.

Kreatiwiteit is nie net vir ‘n paar bevoorregtes nie, dit is vir almal.

Edgar A. Whitney, ‘n baie bekende Amerikaanse waterverf leermeester het gesê: “No door is closed to a stubborn scholar”.

Secret Garden

Secret Garden nooi jou om ‘n tuin vol idees te gaan besoek

Om kreatiwiteit te bevorder het jy begeerte en vasberadenheid nodig, asook oefening, geduld en deursettingsvermoë, dieselfde eienskappe wat lei na sukses in enige ander kreatiewe uitdaging.

Akademiese opleiding is handig, maar nie noodsaaklik nie. Baie kreatiewe mense is self opgelei, aangevuur deur die begeerte om iets moois te maak, en hul is bereid om kanse te vat en foute te maak.

Wat jy glo is wat jy gaan wees

Elke kunstenaar het as ‘n beginner begin. Dit maak nie saak hoe ‘n beginner jy is nie. Jy sal leer. Jy leer en doen sodat kreatiwiteit kan ontwikkel. Geen rede om bang te wees nie. Al is jy nie ‘n kunstenaar nie, doen jy reeds baie dinge wat wel kreatief is, soos naaldwerk, houtwerk, tuinmaak, scrapbooking, selfs om kinders groot byvoorbeeld. Daar is nie so ‘n groot gaping tussen dit en om kreatiewe kuns te skep nie. Al wat jy nodig het is die wil om te leer en om ‘n paar vaardighede te oefen. Om vaardighede baas te raak is maar soos om te leer bestuur, deur die aksies te herhaal een voor een tot jy alles gelyk kan doen. As jy kan leer om ‘n kar te parkeer kan jy leer skilder.

Vergeet van negatiewe gedagtes soos dat jy geen talent het nie. Henri Matisse het gesê:” It would be a mistake to ascribe this creative power to an inborn talent. In art, the genuine creator is not just a gifted being, but a man who has succeeded in arranging for their appointed end, a complex of activities, of which work is the outcome. The artist begins with a vision – a creative operation requiring an effort. Creativity takes courage.”

Practice, patience and perseverance pay off

Om te oefen, geduldig te wees en vas te byt  gee resultate

Hou dit eenvoudig, geniet elke oomblik

Kom Ons begin:

Jy het nie duur material en verf nodig om kreatief te wees nie. ‘n Doodgewone potlood is jou beste vriend. Gebruik sommer gewone kopieer papier, dan is jy nie jammer om foute te maak nie, en kan jy gebruik soveel as wat jy wil. Jy gaan nie noodwendig ‘n kunswerk maak nie, dit gaan meer oor om kreatief te wees.

4997f7b63010f97e617af598ed4c4bbb » Week 31 Art Escape bevorder jou Kreatiwiteit Deel 1 » Helena van der Nest-Strijdhorst

Eksperimenteer:

Gebruik ‘n verskeidenheid van mediums, papier, gereedskap en kleure.

Krap in jou kaste en laaie en werk met wat jy het. Kyk gerus by tweedehandse winkels, soms kry jy daar vir ‘n appel en ‘n ei die interessantste ou skilderye en rame, of kunsmateriaal.

Word ‘n versamelaar:

Gebruik ‘n ou skoenboks om interessante voorwerpe in te stoor, soos skulpies, blare, knope, sleutels, dryfhout, enigiets wat vir jou mooi is en jou verbeelding prikkel. Vra vriende en familie of hulle iets het wat jy dalk kan gebruik.Maak ‘n aparte boks vir stukkies papier, net, kant, materiaal, lint, ou skilderye en tekeninge om te gebruik in van die oefeninge.

05d6cc68dabd7aeb914bf05766d2e3e3 » Week 31 Art Escape bevorder jou Kreatiwiteit Deel 1 » Helena van der Nest-Strijdhorst

kreatiwiteits joernaal

Die idee vir ‘nkreatiwiteitsjoernaal of visuele dagboek is dat dit vir speel, pret en pure genot gebruik word. Dit is jou oasis, jou manier om ‘n spesiale oomblik vas te vang. Begin deur hierdie paar weke wat die kursus duur jou joernaal oral saam met jou te neem, jy gaan in die kursus baie idees kry hoe om jou alledaagse lewe te gebruik vir bladsye in jou joernaal. Om dit nog meer eenvoudig te hou gaan ons slegs drie kleure spektrums gebruik.

‘n Goed benutte joernaal is enige kreatiewe persoon se beste vriend. Skryf daarin al  jou idees voor jy dit vergeet. Jy mag foute maak, moenie uitvee nie, moenie uitskeur nie,en skryf die datum by.

IMG 20210201 104032 » Week 31 Art Escape bevorder jou Kreatiwiteit Deel 1 » Helena van der Nest-Strijdhorst

Tekening van deur in Visuele dagboek

Sonya Delauny as inspirasie vir Kreatiwiteit

Doen nou in jou sketsboek of op ‘n groter karton die oefening soos in die kunsgeskiedenis video  oor Sonya Delaunay (1885-1979). Sonya was ‘n Joods/Franse kunstenares. Sy is bekend vir haar sterk kleurgebruik en geometriese vorms, Sy het daarvan gehou om te skilder, materiaal te ontwerp, asook vir teater kostuums te maak. Sonya het ongeveer in 1911 begin om ‘n kwilt te maak vir haar pasgebore babaseun. Sy het op dieselfde manier te werk gegaan as die gebruik in Russiese plattelandse mense se huise. (Sy het in Rusland groot geword) Toe dit klaar was,het die stukke materiaal en kleure ‘n cubistiese patroon gevorm. Dit het daartoe gelei dat sy en haar man Robert Delaunay dieselfde beginsels van kleur en ontwerp toegepas het in hul skilderye en ander kuns voorwerpe.

 

Week 30 Tuinvoëls Oliepastel tegniek

Kingfisher met Oliepastel, thinners en en waterverfpotlood tegniek

Kingfisher met Oliepastel, thinners en waterverfpotlood tegniek.

Oliepastel, thinners en waterverfpotlood tegniek

Die hele idee met tegniek en tekstuur is dat dit jou kunswoordeskat verryk en jou dus beter in staat stel om jou emosies en gevoelens op doek uit te druk, weereens :gebruik dit  om jou te help, nie om jou te hinder nie. Matt Tommey verduidelik dit baie mooi, “Wanneer jy net ‘n hammer ken probeer jy alles met ‘n hammer doen, nie net spykers inkap nie, maar ook om skroewe uit te haal en om ‘n plank te saag. Met tegnieke verbreed jy jou kunswoordeskat en kan jy jouself soveel beter uitdruk.”

Daarom dus dat ons verskillende tegnieke probeer en dan kan jy self besluit of jy daarvan hou, en of dit vir jou en jou kunswerke sal kan werk.

Die Oliepastel, thinners en waterverfpotlood tegniek is ‘n heerlike tegniek, dit is baie soos om te mediteer, maak jou rustig, en jy kan dit vir bykans enige onderwerp gebruik. Portrette, blomme, stillewes, diere, en landskappe kan met die Oliepastel, thinners en waterverfpotlood tegniek gedoen word.

Voor jy begin teken, net weer ‘n paar wenke:

  • Kies eers eenvoudige onderwerpe
  • Leer om waar te neem, te observeer
  • Oefen om potlood te gebruik
  • Kyk deeglik na onderwerp voor jy begin teken
  • As iets jou inspireer: skets dit
  • Moenie ‘n skets weggooi nie
  • Neem sketsboek soveel moontlik saam na verskillende plekke
  • Maak seker jy skets alle inligting wat nodig is
  • Maak genoeg kleurnota’s op skets
  • Geniet wat jy doen, dit is veronderstel om jou te help

 

If I create from the heart, nearly everything works, if from the head, almost nothing – Marc Chagall

 

IMG 20201123 112712 » Week 30 Tuinvoëls Oliepastel tegniek » Helena van der Nest-Strijdhorst

Suikerbekkie en Aronslelie

 

Oefening vir hierdie week: Potlood gekombineer met Oliepastel.

 

Voorbeelde: Kingfisher, Suikerbekkie 

Jy het nodig:

  • Oliepastelle
  • Watte
  • Thinners
  • Potlode en/of Waterverfpotlode
  • Stewige papier
  • Wit akriliese verf en #1 Kwassie

 

Metode:

Teken liggies met potlood buitelyne van blomme of voël.

Kyk vir kleurvlakke en teken dit duidelik in.

Kleur nou in met oliepastel, lekker dik, wit gedeeltes moet met wit ingekleur word, vir swart gebruik liewer bruin of gebruik swart baie liggies.

Maak watte nat met Thinners en smeer  hele oppervlak sodat hele papier bedek is met kleurlaag.

Teken nou alle detail in met potlood, nie inkleur nie, gebruik arseringstegnieke om die veertjies te laat uitstaan. Werk ook met die negatiewe spasies. Let ook op om nie interessante gedeeltes te verloor nie. Werk laag op laag, werk met meer as een kleur oor mekaar om diepte te verkry.

Fyn wit kolle en strepies kan laastens met Wit akriel verf geskilder word. Indien jy sterker kontras effek nodig het, kan jy oom waterverf gebruik, soos by die Suikerbekkie voorbeeld, en ook die Jan Frederik hieronder gedoen is.

IMG 20201123 113316 » Week 30 Tuinvoëls Oliepastel tegniek » Helena van der Nest-Strijdhorst

Jan Frederik Oliepastel en thinners tegniek, afgerond met waterverf en waterverfpotlood.

Soos jy by hierdie tyd seker al weet; “Practice makes Perfect”, gebruik jou sketsboek en potlode. Dit mag wees dat dit vir jou moeilik is om  ‘n groot skildery te voltooi. Maar jy kan wel ‘n boek vol idees en inspirasie by mekaar maak. probeer dus om vir jouself vinnige sketse met kleurnota’s by te maak en skets soveel as wat jy kan.

Gebruik die Oliepastel, thinners en waterverfpotlood tegniek en probeer verskillende onderwerpe, soos skoene, vrugte, blomme of selfs ‘n portret of twee.

Wenke vir sukses:

  • Dit is soms beter om ‘n skildery meer as twee of drie keer te skilder, sodat jy die onderwerp beter kan leer ken en hoe meer jy iets herhaal, hoe meer leer jy en verbeter jy.
  • Wees ook bereid om aanvanklik foute te maak en hou aan probeer tot jy die gewenste resultaat kry.
  • Paul Cezanne het die berg naby die plek waar hy gebly het 60x geskilder.
  • As jy nie tevrede is nie, werk oor die gedeelte tot dit reg is.
  • As ‘n kleur nie werk nie, probeer die komplementêre kleur.
  • Skilder onderwerpe waarvan jy hou en wat jy ken.
  • Gregoire Boonzaaier het gesê dat slegs 1 uit elke 50 werkstukke werklik ‘n goeie poging van hom was. (In sy pakhuis is ong. 17.000 skilderye).

Geniet hierdie Oliepastel, thinners en waterverfpotlood tegniek en wanneer jy ‘n bietjie hiermee gewerk het, kan jy nog idees probeer, en die tegniek op jou manier gebruik en aanpas.

 

 

 

 

Week 29 Inspirasie kleuroefening

Inspirasie kleuroefening

 

 

20180620 081248 » Week 29 Inspirasie kleuroefening » Helena van der Nest-Strijdhorst

Kollage met waterverfpotlood

Inspirasie is wat ons help om aan die gang te kom, dit motiveer ons om te begin werk aan ‘n nuwe projek, skildery of skets. Is daar oefeninge wat kan help om inspirasie te bevorder? Verseker, en die manier waarop jy inspirasie ontvang en verwerk sal verskil van mens tot mens.

Hierdie week werk ons met ‘n kleuroefening, wat terselfdertyd ook ‘n inspirasie oefening is. Dit is ‘n prettige manier om jou vaardigheid om kleure te meng te verbeter. Werk ook goed as ‘n manier om “artist block” te oorkom. Verder kan jy dit toepas deur prente uit te knip en in jou visuele dagboek te plak, sodat jy nie op ‘n spierwit intimiderende wit bladsy hoef te begin nie.

Daar is ‘n hele paar variasies waarop jy hierdie inspirasie  oefening kan doen.

  • Plak in jou sketsboek klein foto’s, dit spaar tyd sodat wanneer jy ‘n kans kry om kreatief te wees, jy direk jou sketsboek of visuele dagboek kan uithaal en iets kies waarmee jy wil werk.
  • Die foto hoef nie volledige onderwerp op te he nie, dit kan ‘n deel van iets bevat, sodat jy die res self voltooi.
  • Hierdie inspirasie oefening kan jy doen wanneer jy op reis is, en byvoorbeeld moet wag vir jou vlug op ‘n lughawe.
  • Dra ‘n klein sakkie met kunsbenodighede by jou, onder andere ‘n klein A5 sketsboekie waarin jy fototjies geplak het,. Dan het jy iets om te doen wanneer jy moet wag vir ‘n afspraak of ander oponthoud het, of terwyl jy ‘n televisie program kyk. .
  • Gebruik verskillende mediums soos pen, potlood, kleurpotlode, wat dit vir jou moontlik maak om enige plek te kan werk.
  • Variasie op die tema is om ‘n foto in dele te sny, en dan tussen die dele met kleure te werk, soos die foto hierbo.
  • Jy kan ook aanhalings byskryf, of jou belewenis van die oomblik, of iets wat vir jou uitstaan of jou getref het op die foto.

Hoe om te werk te gaan:

IMG 20200713 151137 » Week 29 Inspirasie kleuroefening » Helena van der Nest-Strijdhorst

Kies ‘n foto of twee waarvan jy hou, skeur of sny dit uit en plak in jou sketsboek. Begin om waar die foto ophou verder te skilder.

 As Kleuroefening:
  1. Kies ‘n foto of twee waarvan jy hou, skeur of sny dit uit en plak in jou sketsboek.
  2. Gebruik die medium van jou keuse en begin om waar die foto ophou verder te skilder.
  3. Hierdie oefening is ‘n uitstekende oefening om jou verbeelding te prikkel, en dit help jou ook om van die foto af te wyk, dus om meer vry te kan werk.
  4. Verder is dit ‘n uitstekende oefening om te kan kleure meng. Die idee is dat jy slegs die primêre kleure, rooi, wit, geel, jy mag ook oker geel byvoeg, swart en wit verf gebruik om die kleure so te meng dat jy amper nie kan sien waar die foto is nie.
  5. Werk ook oor dele binne in die foto sodat alles saamsmelt en een geheel vorm.

Meer oor toepassing van Kleure

Komplimentêre Kleure:

Dit is die kleure wat reg oormekaar op die kleurwiel lê: Rooi – Groen, Blou – Oranje, Geel – Pers.

Wanneer ons skilder en ons kleure wil demp, of skaduwee insit kan ons swart by sit, maar dit kan die werk leweloos maak. Meng jy sommer enige kleur by, word die werk modderig. Dit is beter om die kleur se komplementêre kleur by te meng, en die resultaat is dat kleure sing.. Met Waterverf sal ons b.v. oor ‘n geel piesang ‘n ligte laag pers aanwend vir skaduwee, oor ‘n rooi appel ‘n ligte deurskynende laag groen vir skaduwee.

Die komplementêre kleur laat die kleur ook sterker vertoon, kleure word langs mekaar geplaas, b.v. ‘n streep blou langs oranje verdiep die kleur.

Variasies van Inspirasie oefening:
IMG 20200713 151058 » Week 29 Inspirasie kleuroefening » Helena van der Nest-Strijdhorst

Potloodskets variasie

  1. Vir variasie kan jy dit ook met pen, potlood, waterverfpotlood ens doen.
  2. Nog ‘n variasie is om die foto wat jy gekies het horisontaal of vertikaal in repe te sny en die dele los van mekaar vas te plak. Werk dan tussenin met kleurpotlood, pen of waterverf om dit in ‘n kunswerk te verander.
  3. Die oefening help ook om wanneer jy voel jy het nie inspirasie nie, net ‘n begin te maak en aan die werk te kom.
  4. Jy kan ook ou kalenders of ander groot prente gebruik en direk op dit teken, soos in die voorbeelde hieronder. 
IMG 20200713 151304 » Week 29 Inspirasie kleuroefening » Helena van der Nest-Strijdhorst

Waterverf as medium gebruik vir inspirasie                                      oefening.

2c66fafb231c30952ec89abb6908f241 » Week 29 Inspirasie kleuroefening » Helena van der Nest-Strijdhorst a6a1e53f64c4d7ae5e839631734f6533 » Week 29 Inspirasie kleuroefening » Helena van der Nest-Strijdhorst

Week 28 Keuse van Onderwerp

Week 28 Keuse van Onderwerp

Seker een van die moeilikste besluite om te neem is om jou onderwerp te kies. Daar is soveel wat mooi, skilderagtig, en kleurvol is…

Dit help baie om vir jou ‘n tema te kies. En dan kan jy dit selfs nog meer verfyn, soos wanneer jy Portrette as tema sou kies, kan jy in verskillende kategorië werk: Musikante, mense wat lees, kinders, kinders met hul troeteldiere, karaktervolle ouer persone se  portretstudies, en so gaan die lysie aan.

 

Jy kan aan een of meer tema tegelykertyd werk. Gebruik ook verskillende mediums, en gaan leer by die Ou Meesters hoe hulle jou onderwerp geskilder het. Gebruik verskillende benaderings, en neem self baie foto’s!

 

Dit is altyd goed om te begin met iets waarvoor jy lief  is, iets wat jy in belangstel, iets wat jy ken. Dit gebeur dikwels dat jy tyd het en lus is om ‘n skildery te begin, maar jy weet nie wat nie. Wanneer jy eers in boeke en tydskrifte of op die internet begin soek vir iets is jy naderhand so deurmekaar, want die een ding lyk mooier as die ander en jou vingers juk behoorlik om te begin.

Dit kan dan veroorsaak  dat jy met iets begin, halfpad teleurgesteld of moedeloos raak met jou poging, volgende ding begin, weer ophou ens.

Dit help baie om op ‘n tema te besluit en dan binne die raamwerk te werk. Dit lyk ook beter as jy sou wou uitstal en jy het ‘n deurlopende tema, of temas, as wat jy teveel rondspring en dit naderhand impak verloor.

 

Flower stillife » Week 28 Keuse van Onderwerp » Helena van der Nest-Strijdhorst

Blomme as tema kan op baie maniere toegepas word

Wanneer jy besluit het op ‘n tema of onderwerp, soos b.v. wilde diere, bome, blomme of wat ook al, kan jy begin om net oor die onderwerp referensiemateriaal bymekaar te maak en ook so’n bietjie navorsing te doen. Kies jy b.v. voëls, kan jy op ‘n sekere soort besluit, soos volgens hulle habitat, dieselfde geld vir blomme, doen dan ‘n reeks oor proteas, of rose of veldblomme, werk dus meer gefokus en selektief.

20180227 140908 » Week 28 Keuse van Onderwerp » Helena van der Nest-Strijdhorst

Voëls as tema

Wanneer jy wil werk kan jy ook begin deur te werk met dit wat jy direk in jou omgewing sien, soos die uitsig deur jou venster, ‘n landskap, die koppies  op die tafel, klere oor ‘n stoel, die kat in die vensterbank, hond op die mat voor die kaggelvuur ens.

Wat jy ook al skilder sal afhang van jou belangstelling, omstandighede, en tipe skildery wat jy wil skilder.

Besluit ook vroegtydig of  jy in portret of landskapformaat gaan werk.

IMG 6806 1k web 1 » Week 28 Keuse van Onderwerp » Helena van der Nest-Strijdhorst

                                                 “We see nothing truly till we understand it” John Constable

 

.Kies dus ‘n onderwerp wat jy in belangstel,en wat vir jou interessant is, iets wat jy ken,  kry die gevoel van jou onderwerp, indien moontlik stap om  of in jou onderwerp en :

  • Identifiseer sekere eienskappe: vlakke, kontoere, afstande, struktuur, tipe van plantegroei in landskap ens.
  • Bestudeer ook die invloed van lig: kwaliteit, hoe dit die onderwerp beïnvloed, rigting waar vandaan lig kom, tyd van die dag, weersomstandighede, beweging van wolke, wind ens.
  • Wat is die mees uitstaande, dominante aspek?
  • Wat was dit wat eerste jou aandag getrek het?
  • Gebruik ook die onaantreklike of oninteressante voorwerp en dele.
  • Wat wil jy beklemtoon of uitlig in skildery?
  • Bestudeer die kleure: Is daar ‘n kleurskema of dominante kleur, is die kleurskema warm of koud? Hoe beïnvloed die kleure mekaar?
  • Doen eers ‘n paar potlood- of houtskoolsketse van jou onderwerp
  • Beplanning van komposisie is noodsaaklik.

 

IMG 6786 1k web 1 » Week 28 Keuse van Onderwerp » Helena van der Nest-Strijdhorst

Die skilderytjie hierbo is deel van die “Daily Painting reeks”. Die idee is om ‘n klein en vinnige skilderytjie elke dag te skilder, van iets in en om jou huis. Jy sal miskien nie elke dag kan skilder nie, maar wat van ‘n klein “Daily Sketch” elke dag?

 

 

Wenke:

  • Kies ‘n basiese kleurpalet of kleurharmonie om te gebruik.
  • Konsentreer op die geheelbeeld en hou dit ongekompliseerd en eenvoudig
  • Gebruik wat jy in jou onderwerp het, moenie probeer om dit te versier nie.
  • Stop sodra jy gesê het wat jy wou.

 

Oefening

Wat sou jy graag wou kies as jou tema en opverskillende maniere skilder? Begin om voor te berei vir skildery van eie keuse in medium van eie keuse.Geniet dit, al is eindproduk miskien nie heeltemal wat jy in gedagte gehad het nie,sien dit as ‘n proses.En begin sommer werk aan volgende skildery!

Week 27 Die mooi en die lelik, hoe werk dit?

Die mooi en die lelik, hoe werk dit?

oil paint palette

Olieverf  palet, ‘n kunswerk op sy eie

“Hoekom lyk my skildery nooit so mooi as die onderwerp nie???

 

Dit gebeur maklik dat ons dink dat wanneer ons iets kies om te skilder wat mooi en pragtig lyk, ons projek ook outomaties moet goed lyk en treffend wees, maar in praktyk is dit ongelukkig nie altyd so maklik nie, soos meeste van ons tot groot frustrasie en teleurstelling reeds ontdek het.

Dit is natuurlik om geïnspireer te word deur iets wat baie mooi vertoon, maar selfs die doodgewone, onopvallende in die leefwêreld om ons kan in ‘n pragtige skildery omskep word.

Die geheim lê daarin om iets raak te sien en dan ‘n bietjie “magic” d.m.v. komposisie, kleur en tegniek by te voeg om sodoende iets te skilder wat werklik treffend is.

Wanneer ons dus vir dinge om ons kyk moet ons bietjie verder en dieper kyk, nie net die “shopping-list” van twee bome, ‘n huisie, ‘n stroompie en paadjie nie.

Ons kan die vaardigheid ontwikkel om sekere rangskikkings en balans op te let, b.v. die hele lig en donker rangskikking in ‘n toneel, of die kleurbalans, of die opvallende vorms.

Die manier waarop lig val op ‘n onderwerp het ‘n belangrike invloed

En ‘n onderwerp wat deur sonlig verlig word gaan baie beter vertoon as iets op ‘n bewolkte dag.

Ode to Sleepy Town 1 » Week 27 Die mooi en die lelik, hoe werk dit? » Helena van der Nest-Strijdhorst

Ode to a sleepy town – Helena van der Nest

 

 

Stap 1 na ‘n suksesvolle werkstuk is dus om ‘n balans te probeer kry tussen lig en donker.

Stap 2 is om die gevoel wat jy wil oordra met die regte kleurpalet te probeer vaslê.

Stap 3 is om wanneer jy vir ‘n toneel kyk, en jou oog probeer om alles waar te neem, meer as wat nodig is, veral as jy    nog jou kop ook draai van die een kant na die ander kant, en jy dus half oorweldig kan word met detail, om te fokus op ‘n afgeperkte area. Hier kan ‘n “soekraam” baie help. Maak self een deur ‘n reghoek uit  ‘n poskaartgrootte karton te sny. Met ‘n soekraam baken jy vir jou ‘n area af, wat direk om jou onderwerp is, om soveel as moontlik onnodige detail uit te skakel. Dit is baie makliker om te sien hoe jou skildery gaan lyk, asook om ‘n komposisie uit te werk, met ‘n soekraam.

Stap 4 is om ‘n klein voorbereidende beplanningsskets te maak, om sodoende die verskillende moontlikhede vankomposisie en kleurpalet te toets.

Stap 5:Dit help om in die plek van voorwerpe eerder op te let na die verskillende vorms van die voorwerpe, of groepe voorwerpe. So kan ‘n driehoek vorm ‘n enorme wonderlike element in jou skildery wees, wat die skildery iets besonders en uitstaande kan maak.   Dink b.v. ook aan scaffolding by ‘n bouprojek, dit klink nie na ‘n mooi onderwerp nie, maar dit gaan vir jou baie verskillende horisontale en vertikale elemente gee, asook ‘n wonderlike patroon om jou skildery op te baseer.  ‘n Gebuigde lyn, “curve”, is ook ‘n vorm idee wat goed kan werk. Gebuigde lynelemente kry ons in wolke, boom vorms, en landskappe. Die poësie van patroon   en energie van herhalende vorms moet nie onderskat word nie.

Stap 6:Sommige kunstenaars gebruik kleur passievol as die hoof bestanddeel van hul werk. (Colourists). Hulle verskuif grense, gebruik onverwagte kleure saam vir verhoudings ens. Hulle is meer geïnteresseerd in die atmosfeer van die kunswerk as met die visuele werklikheid. Hulle is meesters daarin om ‘n simfonie van kleur op die skilderdoek te skep. Deur kleur kreatief en verbeeldingryk aan  te wend kan die mees eenvoudige, nederige onderwerp in ‘n skitterende juweel omskep word  

Stap 7:Om mee af te sluit: ‘n Goeie skrywer doen veel meer dan om net ‘n paar woorde in sinne te verwerk. Hy of sy weef ‘n hele storie met woorde, om die boodskap oor te dra. ‘n Musikant doen veel meer dan om net klank voort te bring, die klank is in patrone en ritmes om ‘n storie te vertel.    

Daarom is dit absoluut noodsaaklik dat ‘n kunstenaar ook veel meer moet doen as om bloot net ‘n weergawe van ‘n onderwerp te skilder.’n Skildery kan meer wees as net ‘n perfekte weergawe. Ons kunstenaars kan met kwas, kleur, komposisie, patrone, tegnieke ens. ‘n hele storie vertel. Dan sal ons skilderye insiggewend en treffend wees, maak nie saak wat die onderwerp is.

Bron:The Artist November 2002 Jackie Simmonds

 

 

 

Week 26 Handige gids om met paletmes te skilder (deel 2)

Handige Gidslyne om met paletmes te skilder (deel 2)

IMG 20190607 180655 428 » Week 26 Handige gids om met paletmes te skilder (deel 2) » Helena van der Nest-Strijdhorst

Algemene gebruik vir die paletmes:

Hier is ‘n paar idees waarvoor jy die paletmes kan gebruik:

  • Skilder ligpunte op rotse
  • Skilder sneeu op toppe van berge
  • Om teksture op te bou in die voorgrond, skep teksture van klippe, gras en ander elemente in die natuur.
  • Om blare en boombas te skilder
  • Om vinnig die doek met verf te bedek
  • Om grensdrade, boom takke en ander skerp lyne of rande te skilder
  • Om verf te meng op jou palet, en ook handig om op jou meng palet verf afteskraap om plek te maak waar jy nog verf kan meng.

 

IMG 20190405 203558 » Week 26 Handige gids om met paletmes te skilder (deel 2) » Helena van der Nest-Strijdhorst

Paletmes kan gebruik word vir berge, boombas, blare, teksture in voorgrond.

 

 

1559917894338 » Week 26 Handige gids om met paletmes te skilder (deel 2) » Helena van der Nest-Strijdhorst

Paletmes werk baie goed vir dikker teksture en om veertjie effek te skilder.

1559917894253 » Week 26 Handige gids om met paletmes te skilder (deel 2) » Helena van der Nest-Strijdhorst

Om harmonie te behou tussen palet mes en kwas

Dit is goed om die paletmes te gebruik saam met ‘n kwas. So kan jy pragtige kontrasterende effekte kry wanneer beide gebruik word.

Maar jy wil ook nie teveel kontras maak nie. Jy wil dat al die verskillende elemente in jou skildery by mekaar pas, en dat daar harmonie is tussen jou paletmes en dit wat jy met die kwas geskilder het.

‘n Tegniek om te gebruik is om die randjies van waar jy met ‘n paletmes gewerk het te versag met ‘n kwas. So skakel die paletmes deel mooi in by die deel wat jy met die kwas geskilder het.

Kies ook watter deel moet dominant wees, of dit wat jy met paletmes skilder, of die deel wat jy met ‘n kwas doen. Moenie dat daar ewe veel van beide is nie, dit kan verwarring skep.

As jy besluit om meestal die paletmes te gebruik in ‘n skildery, kan jy klein deeltjies inbring waar die kwas se tekstuur mooi sigbaar is. Andersom weer, wanneer jy meer die kwas gebruik, gebruik dan die paletmes in klein deeltjies op die skildery.

Al die elemente in die skildery moet saamwerk en een geheel vorm.

  • IMG 20190129 WA0028 » Week 26 Handige gids om met paletmes te skilder (deel 2) » Helena van der Nest-Strijdhorst
  • Harmonie tussen paletmes en kwaswerk

Algemene Paletmes wenke

Hier is ‘n paar algemene paletmes wenke:

 

  • Maak seker jy maak die mes skoon na jy dit gebruik het. As jy vergeet om dit te doen, word die verf hard en droog en jy kan die mes nie meer gebruik nie. Jy kan wel probeer om die verf af te krap met ‘n skerp messie, maar soms is dit nie die moeite werd nie.
  • Hou jou paletmes aanwendings interessant. Wissel die lengte, kleur en teksture af.
  • Dis nie nodig om al die verskillende soorte messies aan te skaf nie. Jy het net die basiese groottes en vorms nodig.
  • Die paletmes is handig om verf afteskraap sowel as om verf op die doek aan te wend.
  • Met ‘n paletmes verloor jy van die fyner detail, probeer opmaak vir dit met interessante kleurgebruik.
  • Die paletmes help met kleurverandering in verskillende vlakke. Byvoorbeeld wanneer jy sonlig wil skilder wat deur donker bome filtreer; hier is die paletmes ‘n handige gereedskap om die spesiale effek te kry.

 

Pin It on Pinterest