Week 12 Paasfees

Marc Chagall -Glas en lood venster
Deur die eeue heen het kunstenaars die Kruisiging en gebeure rondom Paasfees uitgebeeld. Kunstenaars soos Rembrandt van Rijn, Vincent van Gogh, Marc Chagall, Paul Gaugain en vele meer het met lyntekeninge, kleur en kwas hul interpretasie van die gebeure weergegee. Ons gebruik die werke as inspirasie om ons eie kunswerk met die kruis as hooftema te skep.

Rembrandt van Rijn se weergawe
Nog ‘n werk van Marc Chagall:


Ninetta Sombard
Wanneer ons skilder speel ons emosies ‘n groot rol. Dit bepaal die kleure wat ons gaan gebruik, byvoorbeeld wanneer iets ons hartseer maak sal ons somber kleure kies, en byvoorbeeld ook meer met bloue, perse,diep wynrooi en ander donker kleure werk. Vir iets wat lig en vrolik is gebruik ons helderder en ligter kleure, pienke, lentegroen, lila,appelkoos en geel.
Vir hierdie projek kan jy eers stil word, jy kan ook weer die gedeeltes in die Bybel lees wat die verhaal van die kruisiging vertel, en dan gaan dink oor hoe jy die gebeure ervaar. Hoe sou jy dit wou uitbeeld. Het jy al ooit gedink om ‘n skildery te maak van die kruisiging waar jy miskien een van die soldate, dissipels of toeskouers is? Dis wat baie van die bekende kunstenaars gedoen het, om hulself iewers in ‘n gebeure , as deel van die groep te skilder.
Dis ‘n uitdaging, want nou moet jy dink, wat het jy gehoor, wie was saam met jou, wat het jy gesien? Hoe het jy dit beleef, en hoe raak dit jou.
Jy kan ook die kruis as inspirasie gebruik om ‘n kunswerk te skep.


Week 11 Vincent van Gogh se stoel as Selfportret
Om ‘n selfportret te skilder is deel van enige kunstenaar se projekte of keuse van onderwerp. Vincent van Gogh het dikwels homself geskilder, deels ook omdat hy nie altyd geld gehad het om sy modelle te betaal nie.
In hierdie skildery het hy bo en behalwe sy stoel, ook sy sakdoek, met sy voorletters op geborduur, sy pyp en tabak geskilder. Die stoel in hierdie skildery is identies soos die stoel wat hy in een van sy vorige skilderye van sy slaapkamer gemaak het. As onderwerp lyk dit aanvanklik baie eenvoudig en gewoon, maar eintlik is is dit geïnspireer deur ‘n Japanese kunstenaar vir wie van Gogh ‘n groot bewondering gehad het. Die Japanese kunstenaar het ‘n studie gemaak van ‘n enkele gras halmpie, net om te ontdek dat so’n taak hom stap vir stap verder lei om die skepping en eenvoudige werklik raak te sien.
Stoel as selfportret
Deur sy pyp in die skildery te bring, maak hy die onderwerp persoonlik, en is dit amper soos ‘n selfportret. Hy was lief om sy persoonlike besittings te skilder. In Parys was dit sy ou stewels en in Arles sy klompe wat baie gedra was. Hierdie onderwerpe vertel net so baie van die eienaar as wat ‘n portret sou doen.
Die kleur komposisie in hierdie skildery is gebaseer op die variasies om pare primêre kleure : blou en oranje, rooi en groen. Soms het hy die kleure puur gebruik, soms saam met kleur gemeng. Die gedeelte met die suiwerste rooi op die teëls onderdie stoel is gebalanseer met ‘n klein bietjie groen bokant dit en ‘n verdere strook groen op die naaste stoelpoot. Hy beklemtoon die struktuur meer, deur sagte buitelyne wat later aangebring is. Dit versterk die impak van die beeld, maar skep ook spanning tussen lyn en kleur. Deur die perspektief te verbuig druk Van Gogh sy eie stempel af op sy werk en die skildery is bedoel om ongerep en natuurlik voor te kom, in teenstelling met van sy tydgenote se werk, wat kunsmatig kon wees. Bron:History and techniques of the Great Masters: Van Gogh – deur William Hardy
Oefening 1:
Oefen eers en dit help om ‘n boks te teken, wat regop staan, en teken dan die stoel dat dit binne in die boks pas.
Doen ‘n reproduksie van Van Gogh se stoel en pyp.
Oefening 2:
Kyk vir ‘n foto met ‘n stoel, besluit op ‘n kleur kombinasie en doen:
- Studie in potlood of houtskool vir toonwaardes. (Let op na die ligbron vir skadu)
- Skilder die stoel en probeer om nie ‘n kopie van die foto te maak nie maar eerder ‘n interpretasie. Laat dus weg wat nie belangrik is nie, verander hier en daar iets.
Wenk: Om jou eie styl te ontwikkel is dit nodig dat jy eers reproduksies maak van ander kunstenaars se werk. Vra jouself hoekom jy ‘n sekere kunstenaar se werk bewonder, is dit die kleure, komposisie, onderwerp, tegniek, gebruik van lig en donker, ens? Vir groei en ontwikkeling kies jy, nadat jy die reproduksie voltooi het ‘n soortgelyke foto en doen dan weer ‘n skildery op dieselfde manier en gebruik dieselfde tegnieke.
Oefening 3:
Kies ‘n stoel by die huis en plaas iets wat vir jou persoonlik baie beteken op die stoel, bv ‘n boek, porselein koppie, hoed, skoene, baadjie, rok, serp, blomme of vrugte, ens. Maak eers ‘n paar komposisies op verskillende maniere en neem foto’s, doen ook klein sketsies. Kies dan die een wat vir jou die beste werk en begin skilder, of teken met medium van jou keuse.
Opsioneel:
Wat van ‘n stoel met jou troeteldier?
‘n Stoel buite in die tuin, en kies verskillende seisoene, soos lente, somer of herfs.

Week 10 se tema is ‘n visserhuisie, deels om perspektief prakties toe te pas, en ook om tegelykertyd waterverfpotlode op verskillende maniere te gebruik. Jy kan natuurlik ook olieverf, akriel of net waterverf gebruik vir hierdie onderwerp.
Vir ‘n variasie is hier nog ‘n oefening wat jy met waterverf of medium van jou eie keuse kan doen.
Perspektief is die “kuns” om ruimtelike en plastiese effekte te skep, die effekte berus op matematiese wette wat help. Al voer jy nie die wette en konstruksie 100 % korrek uit nie, sal dit jou help om nie groot hinderlike foute te maak nie. Konstruktiewe hulplyne bestaan uit: • Skuins lyne, • Dun lyne vir voorwerpe wat ver weg is. • Medium lyne vir voorwerpe wat nader is. • Dik lyne vir voorwerpe naaste aan jou. Perspektief is gebaseer op twee eenvoudige reëls:
1. Lyne wat parallel is kom wanneer hulle verleng word bymekaar in die verdwynpunt.
2. Alle paralelle lyne kom by dieselfde verdwynpunt bymekaar. Om die begrippe in te oefen kan jy hierdie vissershuisie teken.
Vissershuisie
Wat jy nodig het:
- Burnt Umber, d. blou, violet, raw sienna, ultramaryn, yellow ochre, sap groen
- Plat kwassie.
- Ronde kwassies, dik en dun
- 2B Potlood
- Waterverf papier
- 2 houers met water
Metode:
- Skets horisonlyn, huisie en bome
- Meng d. blou met bietjie gebruik plat kwas om bo aan papier ‘n strook te verf, gebruik nou raw sienna vir nog ‘n deel en laat kleur in mekaar vloei.
- Hou aan oor hele papier werk, en maak stroke met d. violet, raw sienna , burnt umber en d.blou.
- Met ronde kwassie en raw sienna verf op gedeeltes vir meer lig in kleurlaag.
- Verf bome en struike deur ultramaryn by te voeg.
- Verf skoorsteen en muur.
- Terwyl verf nog nat is; gebruik dun kwassie en verf met d. bruin en blou gemeng skaduwee van dak se rand.Laat droog word.
- Gebruik ronde kwas en sap groen en verf ‘n laag oor die voorgrond van skildery
- Maak kleur sterker en verf vensters
- Terwyl verf nog nat is, verf bietjie d. bruin en blou gemeng op dak en aan die kant van gebou en muurtjie. Laat droog word.
- Doen laaste detail.
River of Joy
“When you do things from your soul, you feel a river of joy within you” – Rumi
In hierdie woorde is eintlik die sleutel vir kreatiewe groei en sukses opgesluit. Skilder en teken dit wat jou raak, wat vir jou pragtig is, en vertel deur jou gebruik van kleur, tekstuur, lyn en vorm hoe dit jou geraak het.

River of Joy
Dikwels doen ons as kunstenaars kommissie werk, iemand bestel ‘n kunswerk by jou. Hulle hou van jou styl en kleurgebruik en spesifiseer dan hoe die kunswerk moet lyk wat hulle wil bestel.
Ons almal moet leef en die pot aan die kook hou, dus is ons baie dankbaar wanneer iemand vir ons ‘n opdrag gee.
Soms is daar dan keerdatums betrokke. Dit gebeur ook met uitnodigings om deel te neem aan uitstallings, met ‘n voorgeskrewe tema. Jy wil graag deelneem, die tyd is soms min, en die tema nie werklik iets wat in jou genre val nie. Sulke geleenthede is skaars, en jy kan nie bekostig om te weier nie, want volgende keer word jy moontlik nie weer genooi nie.
Vir hierdie geleenthede werk jy, en jy gee jou beste, maar soms is jy self nie helemal tevrede met die eindproduk nie. Jou werk vloei nie gemaklik nie, en inspirasie kry jy nie sommer wanneer jy met keerdatum of onder druk moet werk nie. Wel is jy dankbaar vir die betaling, wat jou in staat stel om te kan aanhou wat jy die heel liefste doen naamlik om te skilder.
Dan is daar ander geleenthede ook, wanneer jy gevra word om byvoorbeeld iemand anders se onvoltooide werk te kom klaarmaak. Die persoon wat aanvanklik gevra is, is inmiddels weg, met volle betaling, maar die werk is nie na wense gelewer of afgehandel nie. Jy kan dus nie ruim vergoeding verwag nie, want hul het nou reeds hul begroting oorskrei. Maar, in hierdie geval, kan dit wees dat jy so aanklank vind by die opdrag, en uit jou hart uit skilder, dat dit opmaak vir die gebrek aan ‘n goeie vergoeding. Jy kry ‘n deurbraak met jou tegnieke, en het sommer inspirasie vir ‘n hele reeks werke. Jy ervaar ‘n gevoel van tevredenheid wanneer jy hierdie taak met vreugde en entoesiasme kon afhandel.
Dit is waarom Rumi se woorde die sleutel is vir sukses, inspirasie en kreatiewe groei, wanneer hy se ” When you do things from your soul, you feel a river of joy within you.”
Is dit nie interessant dat Jesus ook vir ons dieselfde beloof: “Come to me and drink! Believe in me so that rivers of living water will burst out from within you, flowing from your innermost being, just like the Scripture says!” John 7: 38 Die bron vir inspirasie is nie iewers buite of ver nie, dis binne-in jou, jy kan net stil word en dan oorborrel van idees wat vloei soos ‘n rivier!
In die video wat saam met hierdie week gaan demonstreer ek hoe om inke te laat vloei vir ‘n kleurvolle agtergrond. Daarna gebruik ek altwee my hande om met die paletmes te skilder, ek gebruik ook ‘n waaierkwas om die verf te meng en harde rande te versag. Geniet die proses, Just go with the Flow!
Figuurtekeninge word Pret
Inleiding:
- Die eerste tekeninge is al in pre-historiese tye gemaak, voordat skrif ontwikkel is was daar reeds tekeninge.
- Wie teken? Argitek, ingenieur, filmregisseur, modeontwerper, kunstenaar, beeldhouer ens. In die 18e en 19e eeu was tekenkuns deel van die basiese skoolopleiding en het mense plekke en familie en vriende geteken, later het foto’s die plek van sketse ingeneem.
- Baie mense dink dat ‘n spesiale talent nodig is om te kan teken, dit is niks anders as ‘n vaardigheid soos lees en skryf, of kook, en iets wat aangeleer kan word.
- Hoe begin ‘n mens? Met iets om mee te teken en iets om op te teken, nie noodwendig die duurste toerusting nie, want dit maak nie van jou ‘n beter kunstenaar nie. Selfs ‘n balpuntpen; viltpen, potlood ens. werk op ‘n ou koevert of op die duurste papier.
- Begin eenvoudig, soos jy meer vaardig raak kan jy met ander mediums eksperimenteer. Verskillende mediums het verskillende tegnieke, houtskool is b.v. anders as pen-en-ink.
- Moenie dadelik ‘n meesterstuk verwag nie, dit is ‘n mite! Dit neem baie oefen en harde werk voor jy suksesvol is.
- Leer eers die basiese tegnieke ( soos met musiek). Probeer om elke dag 10 minute te teken.
- Let op na verskillende tegnieke vir verskillende onderwerpe.
- ‘n Kunstenaar dink en beplan voor hy werk, watter medium en tegniek gaan die onderwerp die beste uitbeeld? Doen die werk eers in jou gedagtes en begin dan werk (visiualiseer).
- Elke persoon benader ‘n onderwerp anders, maar wat belangrik is, is om die onderwerp deeglik te bekyk. Let intens op na detail, lyne, lig en skaduwee.
- Kom in die gewoonte om oral om jou potensiële “skilderye” raak te sien.
- As jy teleurgesteld is met jou eerste pogings, kyk waar jy foute gemaak het en probeer weer.
- Jy teken vir jou eie plesier, nie vir iemand anders nie.
- Hoe gaan jy suksesvol wees? Deur toewyding en deur die basiese beginsels te verstaan.
Week 7 Hoe kan figuur teken vinnig gedoen word en pret wees?
Vir hierdie week se oefeninge spring ons aan die diepkant in. Gebruik die video om gewoond te raak om sommer vryhand lekker los sketse te maak. Soos jy sien met die eerste twee voorbeelde is dit gemaklike vryhand lyne, wat vinnig op papier weergegee word, en dan die illusie skep van figure.
Die laaste paar voorbeelde wat jy gaan oefen is direk met ‘n kwas en waterverf of ink gedoen, dit bevorder waarnemingsvermoe, en om spontaan te kan werk, asook om die essensie van ‘n figuur te kan raaksien.

Probeer om gereeld vinnige klein sketse op hierdie manier te maak. Stel vir jouself ‘n tyd limiet, om byvoorbeeld binne 5 minute die belangrikste lyne op papier te sit. Jy kan deur ‘n tydskrif blaai en voor die voet van die figure op foto’s oefen. Jy kan ook in ‘n restaurant of inkopiesentrum met jou sketsboek gaan sit, en ‘n paar vinnige sketse maak.
Goue Reëls:
- Teken wat jy sien, nie wat jy weet daar is nie, selfs al dink jy dit lyk snaaks.
- Werk oor die hele papier, nie net gefokus op een deel nie, bly beweeg oor hele oppervlak.
- Onthou dat in ‘n oefening die proses om te leer en ontwikkel meer belangrik is as die voltooide prent.
Week 6 Kuns en Potlood Tegnieke
Wat is Kuns?
“Kuns is die vreugdevolle en spontane bewys van die mens se vermoë om uitdrukking te kan gee aan sy diep gevoelens van skoonheid, orde, lewe en liefde” (Vicci Sperry)
“n Kunswerk is die uitdrukking van ‘n idee, dit reflekteer die bewuste en onbewuste denke van die kunstenaar. Kuns is nie die resultaat van ‘n produksielyn nie, dit kan nie deur ‘n masjien gemaak word nie. Ware kuns is nooit koud, leweloos of stereotiep nie. Goeie kuns, soos goeie musiek werk bevrydend.
‘n Digter gebruik taal en spraak. ‘n Kunstenaar se gereedskap is visueel. Die kunstenaar gebruik alles tot sy beskikking om sy emosie uit te beeld. Sy insig in kleur verhoudings groei dieper en dieper soos wat hy werk. Jy kan self besluit hoe jy die verf gaan aanwend tot jy tevrede is. Jy kan aanhou aan jou werk verander of heeltemal iets nuuts maak. Die moontlikhede is onbeperk.
Ons is nie onder druk om ‘n voltooide werkstuk te lewer nie, ons leer soos wat ons werk. Die regte gesindheid is om soos ‘n kind jouself toe te laat om die ondervinding te geniet. Ons begin met ‘n skoon wit doek, net dit wat in jou gedagtes en emosies is kan gebeur op jou doek. Besinning voor jy begin help om probleme op te los en berei die weg vir kommunikasie deur jou kuns.
Die besluit om kuns deel van jou lewe te maak is soos om op ‘n reis te gaan. Dit word ‘n leefstyl. Net soos enige reis wat ons onderneem berei ons voor. Ons gaan begin met teken, en dit gaan pret wees. Baie van die oefeninge is bedoel om jou weer soos in jou kinderdae te laat geniet van wat jy doen. Die volgende stap is om dit wat jy nodig het vir hierdie pret oefeninge bymekaar te maak
- Potlode: tenminste 6 verskillendes, soos 2B, 4B ens, daarmee saam ‘n skerpmaker en uitveër.
- Houtskool: houtskoolpotlode asook houtskoolstokkies.
- ‘n Blik fixatief wat jou houtskool en pastelwerk ‘n beskermende laag gee (Haarsproeimiddel kan ook werk).
- Ink, akriliese ink werk goed en is bekostigbaar, (Swart, bruin, groen, geel, rooi, blou, turquoise)
- Waterverf: koop ‘n klein stelletjie met 12 kleure
- Kwassies: 1 ronde klein kwassie, 1 ronde groter kwassie, en ek vind ‘n plat kwas onmisbaar.
- Spuitbotteltjie om met water te vul en projekte en verf nat te hou terwyl jy werk.
- Waterverfpotlode (12 kleure)
- Oliepastelle, met dit kan jy wondere verrig, hou sommer klein botteltjie terpentyn ook byderhand
- Papier, skêr en gom

Tekening van deur
Wenk: Konsentreer om vir jou onderwerp te kyk, nie te veel vir die papier nie. Let op na vorms, patrone en teksture. Beweeg jou hand lossies, hou dus pen verder na agter toe vas. Dit voel miskien bietjie moeilik aan die begin, maar dit gaan jou help met spontane en vry lyne.
Potloodtegnieke
Potlood is jou beste leermeester. Potlood tegnieke is belangrik sodat jy die beginsel van toonwaardes kan verstaan. In ‘n skildery werk ons met verskillende toonwaardes, jy kan dit vergelyk met ‘n fliek, waar daar hoofrolspelers en byspelers is. Alles word nie in dieselfde toonwaarde geskilder nie Al die tegnieke wat ons met potlood gebruik, soos in oefening 2 word ook vir pen en ink, waterverf, pastel, houtskool en ander mediums gebruik.
Praktiese Oefeninge Week 6
Jy het nodig: Drie potlode, HB, 2B en 4 of 6B Sagte uitveër Tekenpapier A3 grootte of ‘n sketsboek ‘n Tekenbord of plank
Oefening 1:
Maak ‘n “toonleer” wat uit 9 blokke bestaan, van lig na donker met potlood. Begin met die ligste blok links en werk laag op laag met potlood om steeds donkerder skakering te verkry. (3 blokkies met HB, 3 met 2B en 3 met 4 of 6B)
Oefening 2:
Maak reghoeke van 3 x 3 cm en doen verskillende tegnieke soos in voorbeeld hieronder.

Teken tegnieke
Oefening 3:
Geheue oefening:
Teken sonder om na regte voorwerp te kyk ‘n skêr, wasgoedpennetjie, leesbril. (om werklik te baat by hierdie oefening werk slegs van geheue.)
Hierdie spesifieke oefening is bedoel om te wys dat enige kunstenaar kyk vir wat hy sien en juis nie altyd op sy geheue staatmaak nie. Dit is ‘n mite dat ‘n goeie kunstenaar alles uit sy kop uit kan doen! As jy op jou geheue moet staatmaak werk jy nie altyd akkuraat nie, vergeet jy detail en kan die verhoudings verkeerd wees.
Wenk: Sit gemaklik waar jy jou onderwerp kan sien sonder om jou kop te draai. Jou oë moet maklik kan beweeg vanaf jou onderwerp en die papier. Spandeer meer tyd om vir jou onderwerp te kyk as om dit te teken.
Oefening 4
Kies een van die voorbeelde in die klas en teken die boom, maar gebruik van die tegnieke soos wat jy dit in die video gesien het.