
Week 10 se tema is ‘n visserhuisie, deels om perspektief prakties toe te pas, en ook om tegelykertyd waterverfpotlode op verskillende maniere te gebruik. Jy kan natuurlik ook olieverf, akriel of net waterverf gebruik vir hierdie onderwerp.
Vir ‘n variasie is hier nog ‘n oefening wat jy met waterverf of medium van jou eie keuse kan doen.
Perspektief is die “kuns” om ruimtelike en plastiese effekte te skep, die effekte berus op matematiese wette wat help. Al voer jy nie die wette en konstruksie 100 % korrek uit nie, sal dit jou help om nie groot hinderlike foute te maak nie. Konstruktiewe hulplyne bestaan uit: • Skuins lyne, • Dun lyne vir voorwerpe wat ver weg is. • Medium lyne vir voorwerpe wat nader is. • Dik lyne vir voorwerpe naaste aan jou. Perspektief is gebaseer op twee eenvoudige reëls:
1. Lyne wat parallel is kom wanneer hulle verleng word bymekaar in die verdwynpunt.
2. Alle paralelle lyne kom by dieselfde verdwynpunt bymekaar. Om die begrippe in te oefen kan jy hierdie vissershuisie teken.
Vissershuisie
Wat jy nodig het:
- Burnt Umber, d. blou, violet, raw sienna, ultramaryn, yellow ochre, sap groen
- Plat kwassie.
- Ronde kwassies, dik en dun
- 2B Potlood
- Waterverf papier
- 2 houers met water
Metode:
- Skets horisonlyn, huisie en bome
- Meng d. blou met bietjie gebruik plat kwas om bo aan papier ‘n strook te verf, gebruik nou raw sienna vir nog ‘n deel en laat kleur in mekaar vloei.
- Hou aan oor hele papier werk, en maak stroke met d. violet, raw sienna , burnt umber en d.blou.
- Met ronde kwassie en raw sienna verf op gedeeltes vir meer lig in kleurlaag.
- Verf bome en struike deur ultramaryn by te voeg.
- Verf skoorsteen en muur.
- Terwyl verf nog nat is; gebruik dun kwassie en verf met d. bruin en blou gemeng skaduwee van dak se rand.Laat droog word.
- Gebruik ronde kwas en sap groen en verf ‘n laag oor die voorgrond van skildery
- Maak kleur sterker en verf vensters
- Terwyl verf nog nat is, verf bietjie d. bruin en blou gemeng op dak en aan die kant van gebou en muurtjie. Laat droog word.
- Doen laaste detail.
River of Joy
“When you do things from your soul, you feel a river of joy within you” – Rumi
In hierdie woorde is eintlik die sleutel vir kreatiewe groei en sukses opgesluit. Skilder en teken dit wat jou raak, wat vir jou pragtig is, en vertel deur jou gebruik van kleur, tekstuur, lyn en vorm hoe dit jou geraak het.

River of Joy
Dikwels doen ons as kunstenaars kommissie werk, iemand bestel ‘n kunswerk by jou. Hulle hou van jou styl en kleurgebruik en spesifiseer dan hoe die kunswerk moet lyk wat hulle wil bestel.
Ons almal moet leef en die pot aan die kook hou, dus is ons baie dankbaar wanneer iemand vir ons ‘n opdrag gee.
Soms is daar dan keerdatums betrokke. Dit gebeur ook met uitnodigings om deel te neem aan uitstallings, met ‘n voorgeskrewe tema. Jy wil graag deelneem, die tyd is soms min, en die tema nie werklik iets wat in jou genre val nie. Sulke geleenthede is skaars, en jy kan nie bekostig om te weier nie, want volgende keer word jy moontlik nie weer genooi nie.
Vir hierdie geleenthede werk jy, en jy gee jou beste, maar soms is jy self nie helemal tevrede met die eindproduk nie. Jou werk vloei nie gemaklik nie, en inspirasie kry jy nie sommer wanneer jy met keerdatum of onder druk moet werk nie. Wel is jy dankbaar vir die betaling, wat jou in staat stel om te kan aanhou wat jy die heel liefste doen naamlik om te skilder.
Dan is daar ander geleenthede ook, wanneer jy gevra word om byvoorbeeld iemand anders se onvoltooide werk te kom klaarmaak. Die persoon wat aanvanklik gevra is, is inmiddels weg, met volle betaling, maar die werk is nie na wense gelewer of afgehandel nie. Jy kan dus nie ruim vergoeding verwag nie, want hul het nou reeds hul begroting oorskrei. Maar, in hierdie geval, kan dit wees dat jy so aanklank vind by die opdrag, en uit jou hart uit skilder, dat dit opmaak vir die gebrek aan ‘n goeie vergoeding. Jy kry ‘n deurbraak met jou tegnieke, en het sommer inspirasie vir ‘n hele reeks werke. Jy ervaar ‘n gevoel van tevredenheid wanneer jy hierdie taak met vreugde en entoesiasme kon afhandel.
Dit is waarom Rumi se woorde die sleutel is vir sukses, inspirasie en kreatiewe groei, wanneer hy se ” When you do things from your soul, you feel a river of joy within you.”
Is dit nie interessant dat Jesus ook vir ons dieselfde beloof: “Come to me and drink! Believe in me so that rivers of living water will burst out from within you, flowing from your innermost being, just like the Scripture says!” John 7: 38 Die bron vir inspirasie is nie iewers buite of ver nie, dis binne-in jou, jy kan net stil word en dan oorborrel van idees wat vloei soos ‘n rivier!
In die video wat saam met hierdie week gaan demonstreer ek hoe om inke te laat vloei vir ‘n kleurvolle agtergrond. Daarna gebruik ek altwee my hande om met die paletmes te skilder, ek gebruik ook ‘n waaierkwas om die verf te meng en harde rande te versag. Geniet die proses, Just go with the Flow!
Figuurtekeninge word Pret
Inleiding:
- Die eerste tekeninge is al in pre-historiese tye gemaak, voordat skrif ontwikkel is was daar reeds tekeninge.
- Wie teken? Argitek, ingenieur, filmregisseur, modeontwerper, kunstenaar, beeldhouer ens. In die 18e en 19e eeu was tekenkuns deel van die basiese skoolopleiding en het mense plekke en familie en vriende geteken, later het foto’s die plek van sketse ingeneem.
- Baie mense dink dat ‘n spesiale talent nodig is om te kan teken, dit is niks anders as ‘n vaardigheid soos lees en skryf, of kook, en iets wat aangeleer kan word.
- Hoe begin ‘n mens? Met iets om mee te teken en iets om op te teken, nie noodwendig die duurste toerusting nie, want dit maak nie van jou ‘n beter kunstenaar nie. Selfs ‘n balpuntpen; viltpen, potlood ens. werk op ‘n ou koevert of op die duurste papier.
- Begin eenvoudig, soos jy meer vaardig raak kan jy met ander mediums eksperimenteer. Verskillende mediums het verskillende tegnieke, houtskool is b.v. anders as pen-en-ink.
- Moenie dadelik ‘n meesterstuk verwag nie, dit is ‘n mite! Dit neem baie oefen en harde werk voor jy suksesvol is.
- Leer eers die basiese tegnieke ( soos met musiek). Probeer om elke dag 10 minute te teken.
- Let op na verskillende tegnieke vir verskillende onderwerpe.
- ‘n Kunstenaar dink en beplan voor hy werk, watter medium en tegniek gaan die onderwerp die beste uitbeeld? Doen die werk eers in jou gedagtes en begin dan werk (visiualiseer).
- Elke persoon benader ‘n onderwerp anders, maar wat belangrik is, is om die onderwerp deeglik te bekyk. Let intens op na detail, lyne, lig en skaduwee.
- Kom in die gewoonte om oral om jou potensiële “skilderye” raak te sien.
- As jy teleurgesteld is met jou eerste pogings, kyk waar jy foute gemaak het en probeer weer.
- Jy teken vir jou eie plesier, nie vir iemand anders nie.
- Hoe gaan jy suksesvol wees? Deur toewyding en deur die basiese beginsels te verstaan.
Week 7 Hoe kan figuur teken vinnig gedoen word en pret wees?
Vir hierdie week se oefeninge spring ons aan die diepkant in. Gebruik die video om gewoond te raak om sommer vryhand lekker los sketse te maak. Soos jy sien met die eerste twee voorbeelde is dit gemaklike vryhand lyne, wat vinnig op papier weergegee word, en dan die illusie skep van figure.
Die laaste paar voorbeelde wat jy gaan oefen is direk met ‘n kwas en waterverf of ink gedoen, dit bevorder waarnemingsvermoe, en om spontaan te kan werk, asook om die essensie van ‘n figuur te kan raaksien.

Probeer om gereeld vinnige klein sketse op hierdie manier te maak. Stel vir jouself ‘n tyd limiet, om byvoorbeeld binne 5 minute die belangrikste lyne op papier te sit. Jy kan deur ‘n tydskrif blaai en voor die voet van die figure op foto’s oefen. Jy kan ook in ‘n restaurant of inkopiesentrum met jou sketsboek gaan sit, en ‘n paar vinnige sketse maak.
Goue Reëls:
- Teken wat jy sien, nie wat jy weet daar is nie, selfs al dink jy dit lyk snaaks.
- Werk oor die hele papier, nie net gefokus op een deel nie, bly beweeg oor hele oppervlak.
- Onthou dat in ‘n oefening die proses om te leer en ontwikkel meer belangrik is as die voltooide prent.
Week 6 Kuns en Potlood Tegnieke
Wat is Kuns?
“Kuns is die vreugdevolle en spontane bewys van die mens se vermoë om uitdrukking te kan gee aan sy diep gevoelens van skoonheid, orde, lewe en liefde” (Vicci Sperry)
“n Kunswerk is die uitdrukking van ‘n idee, dit reflekteer die bewuste en onbewuste denke van die kunstenaar. Kuns is nie die resultaat van ‘n produksielyn nie, dit kan nie deur ‘n masjien gemaak word nie. Ware kuns is nooit koud, leweloos of stereotiep nie. Goeie kuns, soos goeie musiek werk bevrydend.
‘n Digter gebruik taal en spraak. ‘n Kunstenaar se gereedskap is visueel. Die kunstenaar gebruik alles tot sy beskikking om sy emosie uit te beeld. Sy insig in kleur verhoudings groei dieper en dieper soos wat hy werk. Jy kan self besluit hoe jy die verf gaan aanwend tot jy tevrede is. Jy kan aanhou aan jou werk verander of heeltemal iets nuuts maak. Die moontlikhede is onbeperk.
Ons is nie onder druk om ‘n voltooide werkstuk te lewer nie, ons leer soos wat ons werk. Die regte gesindheid is om soos ‘n kind jouself toe te laat om die ondervinding te geniet. Ons begin met ‘n skoon wit doek, net dit wat in jou gedagtes en emosies is kan gebeur op jou doek. Besinning voor jy begin help om probleme op te los en berei die weg vir kommunikasie deur jou kuns.
Die besluit om kuns deel van jou lewe te maak is soos om op ‘n reis te gaan. Dit word ‘n leefstyl. Net soos enige reis wat ons onderneem berei ons voor. Ons gaan begin met teken, en dit gaan pret wees. Baie van die oefeninge is bedoel om jou weer soos in jou kinderdae te laat geniet van wat jy doen. Die volgende stap is om dit wat jy nodig het vir hierdie pret oefeninge bymekaar te maak
- Potlode: tenminste 6 verskillendes, soos 2B, 4B ens, daarmee saam ‘n skerpmaker en uitveër.
- Houtskool: houtskoolpotlode asook houtskoolstokkies.
- ‘n Blik fixatief wat jou houtskool en pastelwerk ‘n beskermende laag gee (Haarsproeimiddel kan ook werk).
- Ink, akriliese ink werk goed en is bekostigbaar, (Swart, bruin, groen, geel, rooi, blou, turquoise)
- Waterverf: koop ‘n klein stelletjie met 12 kleure
- Kwassies: 1 ronde klein kwassie, 1 ronde groter kwassie, en ek vind ‘n plat kwas onmisbaar.
- Spuitbotteltjie om met water te vul en projekte en verf nat te hou terwyl jy werk.
- Waterverfpotlode (12 kleure)
- Oliepastelle, met dit kan jy wondere verrig, hou sommer klein botteltjie terpentyn ook byderhand
- Papier, skêr en gom

Tekening van deur
Wenk: Konsentreer om vir jou onderwerp te kyk, nie te veel vir die papier nie. Let op na vorms, patrone en teksture. Beweeg jou hand lossies, hou dus pen verder na agter toe vas. Dit voel miskien bietjie moeilik aan die begin, maar dit gaan jou help met spontane en vry lyne.
Potloodtegnieke
Potlood is jou beste leermeester. Potlood tegnieke is belangrik sodat jy die beginsel van toonwaardes kan verstaan. In ‘n skildery werk ons met verskillende toonwaardes, jy kan dit vergelyk met ‘n fliek, waar daar hoofrolspelers en byspelers is. Alles word nie in dieselfde toonwaarde geskilder nie Al die tegnieke wat ons met potlood gebruik, soos in oefening 2 word ook vir pen en ink, waterverf, pastel, houtskool en ander mediums gebruik.
Praktiese Oefeninge Week 6
Jy het nodig: Drie potlode, HB, 2B en 4 of 6B Sagte uitveër Tekenpapier A3 grootte of ‘n sketsboek ‘n Tekenbord of plank
Oefening 1:
Maak ‘n “toonleer” wat uit 9 blokke bestaan, van lig na donker met potlood. Begin met die ligste blok links en werk laag op laag met potlood om steeds donkerder skakering te verkry. (3 blokkies met HB, 3 met 2B en 3 met 4 of 6B)
Oefening 2:
Maak reghoeke van 3 x 3 cm en doen verskillende tegnieke soos in voorbeeld hieronder.

Teken tegnieke
Oefening 3:
Geheue oefening:
Teken sonder om na regte voorwerp te kyk ‘n skêr, wasgoedpennetjie, leesbril. (om werklik te baat by hierdie oefening werk slegs van geheue.)
Hierdie spesifieke oefening is bedoel om te wys dat enige kunstenaar kyk vir wat hy sien en juis nie altyd op sy geheue staatmaak nie. Dit is ‘n mite dat ‘n goeie kunstenaar alles uit sy kop uit kan doen! As jy op jou geheue moet staatmaak werk jy nie altyd akkuraat nie, vergeet jy detail en kan die verhoudings verkeerd wees.
Wenk: Sit gemaklik waar jy jou onderwerp kan sien sonder om jou kop te draai. Jou oë moet maklik kan beweeg vanaf jou onderwerp en die papier. Spandeer meer tyd om vir jou onderwerp te kyk as om dit te teken.
Oefening 4
Kies een van die voorbeelde in die klas en teken die boom, maar gebruik van die tegnieke soos wat jy dit in die video gesien het.
Visuele Dagboek

Kollage met waterverfpotlood
Om ‘n sketsboek te gebruik: Persoonlike Visuele DagboekOm ‘n sketsboek te gebruik is ‘noodsaaklike deel van teken en skilder. Dit word ‘n visuele dagboek van mense, plekke en gebeure wat jy gebruik as bron van inligting en ook vir inspirasie.
Dit is ‘n goeie idee om in die gewoonte te kom om ‘n sketsboek saam met jou te dra, gebruik dit om enigiets te skets wat jou oog vang. ‘n Skets kan onopsigtelik in ‘n paar minute gedoen word. Jy kan mense by die werk skets, of mense wat in ‘n park of winkelsentrum rondstap. Mense wat kuier by ‘n koffieplek of restaurant. Vra gerus vriende en familie om vir jou te poseer. Om portrette te skets is pret en hoe meer jy kan oefen, hoe beter.
Jy kan ook tyd neem en verskillende landskappe, geboue of diere skets. Die moontlikhede en idees is te veel om op te noem.
Om goed te kan teken neem oefening, selfs gevorderde kunstenaars het nodig om gereeld te oefen. Sketse hoef nie perfek te wees nie, dit is bedoel as jou eie private rekord van wat jy gesien het of wat vir jou interessant was. So word jou sketsboek jou persoonlike visuele biblioteek, vol verwysings en idees vir toekomstige tekeninge en skilderye of projekte.
Met dit in gedagte probeer dus altyd soveel moontlik inligting in sketsboek te stoor. Dink aan detail, soos houding, vorm van kop, ore en enigiets anders wat jy oplet. Probeer ook om verskillende posisies te skets. Gebruik gerus kleurpotlode, dit is maklik om rond te dra, gebruik b.v. vir vinnige kleursketse van ‘n sonsondergang, of om die presiese skakering van ‘n blom te kan onthou. Waterverf kan ook gebruik word om die kwaliteit van lig en skadu vas te vang.
Maak ook nota’s in jou sketsboek, dis net so belangrik as die skets self. Noteer die datum, tyd van die dag, weersomstandighede en ligtoestand, asook seisoen ens. noem die ligbron en rigting waar vandaan die lig kom. Klanke, geluide en reuke kan ook neergeskryf word. Kyk of jy nie ‘n blaartjie, veertjie of skulpie kan gebruik en plak in sketsboek. Jy kan selfs ‘n poskaart, servet, grassie of blommetjie inplak.
Neem dus jou sketsboek saam oral waar jy gaan en jy sal nooit weer wonder wat om volgende te skilder nie.
Wenk:
‘n Kamera is handig om saam te neem, veral as die tyd min is, of as weersomstandighede nie toelaat vir skets nie.
Foto’s is goeie hulpmiddels vir referensie en ‘n paar foto’s tesame met ‘n paar detail sketse kan die ideale vertrekpunt wees vir ‘n geslaagde skildery.
Meeste kunswerke begin eers as ‘n skets. ‘n Skets wat goed gedoen is dien as geheuebank en kan ‘n basis wees vir ander werk. Om te skets is ‘n manier om iets vir altyd te bêre, moet dus nie ‘n skets weggooi nie al is dit hoe klein of onbelangrik, want enige skets wat jy gemaak het is uniek en oorspronklik en jy kan altyd van dit leer. Wanneer jy begin skets leer jy om te kyk en waar te neem, om werklik te sien en kleure te onderskei. Geniet dit om te skets, probeer binnenshuis, en ook buite skets.
Verskillende tipe sketse:
- Genotvolle skets: Dit is ‘n tekening of skildery wat gedoen word suiwer vir die genot van die oefening.
- Inligtingskets: Word gedoen om inligting en detail weer te gee sodat dit vir latere gebruik gebêre kan
- Atmosfeerskets: Word gedoen om die atmosfeer en gevoel in die eindproduk te verkry, kan later gebruik word vir atmosfeer en gevoel of kan dien as inligting vir skildery wat binnenshuis voltooi word.
- Spesifieke skets: Word gedoen om van ‘n spesifieke onderwerp soveel moontlik inligting, detail, atmosfeer en gevoel te kan Die tipe skets dien ook as basis vir ‘n voltooide skildery. Dit is ‘n kombinasie van inligting, atmosfeerskets, van ‘n spesifieke plek.
Om kortliks saam te vat:
Belangrike inligting wat in jou skets moet wees as jy dit weer wil gebruik:
- Posisie van die son of ander ligbron
- Skaduwees
- Groottes en posisies van vorms wat belangrik is (b.v. boot, lamppaal, geboue, persoon ens. en hoe groot hul in verhouding is met mekaar).
- Skaal: sit iets in wat jou help om skaal te bepaal.
- Maak aantekeninge oor kleure of doen kleursketse
Bron: Learn to sketch: Alwyn Crawshaw, Colour Pencil Drawing, Art Workshop 1 en 2
Oef. 1 Sketsboek:
Begin om van vandag af in die gewoonte te kom om baie te skets. Doen op een bladsy ‘n klomp verskillende klein sketsies, plak foto’s ens. Maak dit werklik jou persoonlike visuele dagboek.
Begin met sketse van jou troeteldiere, gunsteling koffiebeker, boeke, blomme, kledingstuk of skoene, grassies, skulpies ens.
Onthou dit gaan om jou tekenvermoë te oefen, nie om dit foutloos te doen nie, jy hoef die sketse ook vir niemand te wys nie
Oef. 2
Kry vir jou ‘n gewillige “slagoffer” en skets iemand wat jy ken, begin met net hande en voete,of oor, neus of net die oog. Dit help ook om eers te skets sonder om op die papier te kyk (regterbrein oefening) om die onderwerp te bestudeer, en daarna skets of teken jy persoon terwyl jy ook op papier kyk.

Kollage en kleur projek
Kollage
Om ‘n kollage te maak is heerlik ontspannend. Daar is baie verskillende manier hoe jy dit kan aanpak.
Ekstra materiaal wat gebruik kan word om ‘n kollage saam te stel:
- Gekleurde papier
- Tissue papier
- Aluminium foelie
- “bubble wrap”
- Knope
- Blare wat gedroog is
- Sponse
- Kers
- Skêr
- Mes
- Gom
- Uitveërs
Wanneer ons ‘n kollage maak gebruik ons meer as een medium, en word daar veral gebruik gemaak van mediums met ‘n waterbasis want hulle is veelsydig, droog vinnig en kan maklik gekombineer word met potlood en pastelle.
Oliepastelle en Sagter en Harde droë pastelle kan ook gebruik word om ‘n kollage te maak. Pastelle kan met fixative behandel word, om hul meer permanent te maak.
Wat het jy nodig om ‘n kollage te kan saamstel?
Begin heel eerste om ‘n versamelaar te word van materiaal; alles en enigiets kan vir ‘n kollage gebruik word. Dit sluit fotomateriaal van tydskrifte of koerantuitknipsels in, en allerlei soorte en kleure papier, met tekstuur, kleur, tissue en handgemaakte papier, aluminium foelie, sjokoladepapiere en selfs stukke van ou skilderye. Dan natuurlik ook klein voorwerpe soos krale, skroefies, skulpe, spykers en moertjies, sleutels, alles en nog wat kan vir interessante driedimensionele tekstuur oppervlaktes gebruik word.
Hoe plak jy dit vas?
Wit gom soos PVA is baie veelsydig en betroubaar om vir ‘n kollage te gebruik, dit is wateroplosbaar en deurskynend wanneer droog. Die gom kan verdun word: helfte gom, helfte water.
Dan kan akriel medium, wat in buise of potte te koop is ook gebruik word, hiermee kan ook tekstuur geskep word op oppervlak.
Voorstelle vir Kollage
Jy kan ‘n kollage maak met jou gunsteling kleur, of met jou gunsteling seisoen. Vir hierdie kollage werk ons met alles wat vir jou belangrik is. Maak ‘n stapel van tenminste tien tydskrifte bymekaar, waaruit jy vrylik kan knip en skeur. Gee vir jouself ‘n twintig minute tydgrens en begin skeur , versamel alles wat jou lewe en/of belangstellings weerspieël.
Dink aan die oefening as ‘n visuele outobiografie. Sluit die verlede, hede en toekoms in, asook jou drome en wense. Jy mag ook prente insit wat maar net vir jou baie mooi is. Hou aan uitskeur tot jy ‘n lekker groot klomp het. (Tenminste 20), gebruik nou koerantpapier en begin om foto’s mooi te rangskik om ‘n kollage te vorm, plak vas en hang op plek waar jy dit baie sien.
Nog ‘n kreatiwiteitsoefening:
Gebruik van die foto’s wat nie in die kollage is nie en maak daarmee ‘n skeppende kunswerk, gebruik lyne en kleurvlakke om die foto’s, werk met ‘n kleurharmonie en genoeg neutrale kleure. Oefen Komposisie, ritme en balans. Ek het groen en sy harmonie gekies, en toe groen met verskillende kleure gemeng, soos geel, blou enook pers om ‘n verskeidenheid van nuwe kleure te meng, en so my kleur woordeskat uit te brei.
Wees so kreatief en eksperimenteel as moontlik, probeer enigiets, sodat wanneer jy begin werk dit nie meer vir jou vreemd voel nie.
1. Oggendjoernaal (Morning Pages):

Secret Garden
Baie welkom by die kunsklas. Die skildery hierbo se naam is “Secret Garden” en ek nooi jou
om saam met my te stap op hierdie ontdekkingstog deur die kunswêreld,
waar ons steeds nuwe dinge sal leer, en mekaar sal aanmoedig om te groei.
In “The Artist Way”- Julia Cameron se topverkoper, beskryf sy drie maniere wat jou kan help om jou kreatiwiteit meer deel van jou alledaagse lewe te maak. Die eerste gereedskap of hulpmiddel is om elke dag drie folio bladsye vol te skryf. Om self met die hand te skryf is deel van die oefening, dus nie tik op ‘n laptop nie. Dit help om jou kreatiwiteit terug te vind en moet verkieslik daagliks gedoen word. Jy kan drie bladsye skryf, daar is geen verkeerde manier van skryf nie, blaas stoom af (brain drain), skryf alles wat in jou gedagtes opkom, enig iets wat jou hinder,wat jy vrees, of hoop, die belangrikste is dat jy baie eerlik is met jouself terwyl jy skryf. Dit wat jy skryf is persoonlik en niemand behalwe jy self mag dit lees nie. Dit is selfs beter as jy self ook die eerste paar weke glad nie lees wat jy geskryf het nie. Vergeet ook van korrekte taalgebruik en spelling, skryf en bêre dit in ‘n verseëlde koevert. Baie van dit wat jy skryf staan tussen jou en jou kreatiwiteit. Hierdie is ‘n tipiese regterbrein oefening en maak dus nie sin vir die analitiese linkerbrein sensor wat jou gaan probeer oortuig dat die skrywery tydmors is. Deur te skryf help jy om die regterbrein funksie te ontwikkel. Dit maak kreatiewe openinge in jou onderbewussyn waardeur die kreatiwiteit wat binne in jou is vrygestel kan word.
Die Oggendjoernaal, wat jy nie noodwendig in die oggend hoef te skryf nie, is amper soos om te mediteer,dit gee insig en help ons om ons lewe te verander. Vir sommige studente het dit selfs die vorm van‘n gebed aangeneem, en het hulle ook Bybeltekste wat vir hulle spesiale betekenis het saam in hul joernaalgebruik. Dit is ‘n manier om stil te word en om in te skakel byons Skepper. Dit help ook om jouself beter te leer ken .wanneer jy skryf oor situasies in jou lewe.
2. Kunstenaarsafspraak:
Dit is die ander hulpmiddel of gereedskap op reis na jou volle potensiaal. Dit is tyd om te ontvang, tyd wat jy
spesiaal eenkant sit om jou kreatiwiteit te voed. Dit kan‘n uitstappie wees of om na musiek te luister. Jy
doen dit alleen. Dit kan iets wees soos ‘n besoek aan ‘n akwarium, kunsgalery, mooi park of tuin ens.
Leer die kunstenaar binne in jou ken, moenie dit vermy of afskeep nie. Waar die oggendjoernaal soos ‘n gebed en behoefte is,
is die Kunstenaarsafspraak soos die antwoord,vervulling, of herlaai van batterye. Amper soos ‘n visdam met groot en klein visse, die dam kan stagneer of geblok raak of leeg getap word. Netso kan jy begin voel wanneer jy aanmekaar produktief is, en werk sonder ophou.
Nog ‘n manier om inspirasie te kry en die kunstenaar binne in jou te voed is deur op te let na detail.
Die Kunstaal maak gebruik van beelde en simbole,taal sonder woorde, dus iets wat jy voel en beleef.
Om die visdam weer vol te maak vul ons dit met visuele beelde. Woorde, klanke, kleure, reuke, aanraking ens.
Luister na mooi musiek, wees bewus van reuke soos vars gemaalde filterkoffie, vars gebakte brood,
gras wat gesny is, die veld na ‘n bui reën, ens. Enigiets wat jy doen wat ‘n repeterende aksie is, b.v.
stap, fietsry, swem, groente kerf, krale ryg, ens. is aktiwiteite wat die kunstenaarsbrein voed.
Let op hoe dikwels kry jy ‘n oplossing vir ‘n probleem wanneer jy op iets heeltemal anders konsentreer.
Hou dus ‘n notaboek byderhand om idees en inspirasie neer te skryf.
3. Om te stap
Die laaste gereedskap vir kreatiwiteitsontwikkeling is om te stap. Verkieslik elke dag, al is dit net twintig minute. En een
maal per week ‘n lekker lang stap. Wanneer jy stap gebruik jy al jou sintuie. Jy ruik die vars geuk na ‘n bui reën, of die
gras wat pas gesny is. Jy hoor die wind deur die blare ritsel en die voëls wat sing. Om te stap help om jou gedagtes op
iets anders te fokus. Dikwels sal jy terwyl jy stap, ‘n oplossing vir ‘n probleem kry.
Stap help jou om weer te anker en om net te geniet, om net te wees. Jy kan alleen stap, of saam met iemand of jou
hond. Solank jy net stap. Dikwels is tyd vir ons ‘n probleem, maar het jy al opgelet hoeveel tyd net sommerso weg is wannneer jy net gou na jou e-pos wil kyk of op WhatsApp of Facebook. Gun jouself die tyd om net so’n bietjie buite te wees en die sonskyn te geniet, los jou foon by die huis. Sien dit as ‘n belegging,want jy sal vir die res van die dag die rustige gevoel
en innerlike kalmte beleef.
Bron: The Artist Way – Julia Cameron
– Deel 2 Keuse van Onderwerp

Vrede
Keuse van Onderwerp
Al is jy hoe lus om te begin met ‘n skildery gebeur dit tog dat die oomblik wat jy die leë wit doek voor jou het niks wil werk nie en jy ook aan niks kan dink om mee te begin nie.
Gelukkig is daar verskillende maniere om die blok te oorkom. Om mee te begin kan jy begin om te skilder wat direk voor jou is, b.v. ‘n bak met vrugte, ‘n stapel boeke, koffiebekers, ‘n venster, ‘n stoel met klere, skoene wat rondlê ens. Meeste kunstenaars word geïnspireer deur hulle omgewing en gebeure in hulle lewens, hoe onbelangrik dit ook al lyk om te wees. Dit geld ook vir skrywers, musikante, digters en dan natuurlik skilders.
Inspirasie kan ook kom van ‘n fotoalbum, in baie opsigte kan foto’s gebruik word in plek van die sketsboek om situasies en gebeure te onthou. Fotos help om die kleure en ook detail te onthou.
Tydskrifte is ook ‘n ryk bron van inspirasie, veral advertensies. Gebruik dit as ‘n wegspringpunt vir ‘n skildery. Ook boeke oor die natuur en buitelewe, asook tuinboeke en National Geographics kan help.
Dit is nie nodig om slaafs ‘n kopie te maak nie. Die variasies en veranderings wat jy aanbring maak dit oorspronklik en gee dit ‘n bestaansreg.
Musiek, poësie, tekstuur, kleure, ‘n fliek, ens. kan alles bronne wees vir inspirasie.
Sketsboeke is natuurlik ook ‘n goeie bron van inspirasie en kan dan gebruik word soos ‘n visuele dagboek. Hierin skryf jy, plak uitknipsels en fotos, stukkies materiaal, blomme, blare, veertjies ens.
Om ‘n goeie kunstenaar te word help dit as jy leer om te kyk en werklik te sien. Natuurlik kan ek sien, sal jy sê, maar kan jy?
Ons dink baie keer dat ons weet hoe iets lyk, maar sodra jy pen en papier nader trek en begin teken gebeur iets eienaardigs – die tafel wat jy gedink het vierkantig is is nie meer nie, ‘n voorwerp wat jy weet rond is lyk plat, en ‘n sittende figuur totaal onmoontlik. Om dit wat jy sien te kan vertolk (kuns is ‘n taal) na ‘n skildery moet jy eers leer om werklik te sien, en een van die beste manier om te leer is deur dit te skets. …. Soveel as moontlik.
Veral in die begin is mens geneig om jou sukses of mislukking as kunstenaar te meet aan die akkuraatheid waarmee jy ‘n replika kon maak van dit wat jy in die natuur sien. Dit is belangrik om van die werklikheid af te werk, om jou gevoel vir ruimte en persepsie te ontwikkel sodat jy getrou kan weergee wat jy waarneem. Soos met ‘n taal wanneer jy vorder van grammatika en woordeskat na kreatiewe sinsbou en beskrywings, kan jy ook met skilderkuns vorder van net oefeninge wat jou visuele en handvaardigheid verbeter tot meer opwindende projekte.
Jy leer om te redigeer, deur weg te laat, by te voeg, te vergroot, kleur te verander om beter by geheel te pas en om uniek te werk.
Maak dus meer as een oefenskets voor jy met ‘n groot skildery begin. Maak ook nota’s en kleurmonsters.
- Oppervlaktes waarop gewerk kan word:
- Canvas/doek – kan klaar voorberei gekoop word
- Karton
- Masonite/hardboard
- Oil sketching paper kan in boeke soos ‘n sketsboek aangekoop word en is baie handig want as jy ‘n groot boek koop kan jy dit velle sny tot gewenste grootte.
Berei die oppervlak voor deur dit ‘n onderlaag te gee met akriel of universal coating. Hardboard word eers geskuur. Moeselien, linne, melkdoek ens. kan oor bord gestrek word en dan ook met onderlaag behandel word.
Sou olieverf onderlaag gebruik word kan akriel nie bo-oor aangewend word nie, andersom wel.

Harmony of Summer
Deel 1 -Inleiding:
Olieverf het ‘n rykheid, glans en intensiteit soos geen ander medium nie. Toe olie as bindmiddel vir pigment begin gebruik word iewers in die vyftiende eeu was die nuwe medium bewonder vir die lieflike juweelagtige kleure en glansryke afwerking, terwyl die kwaswerk duidelik sigbaar is in die tekstuur. Skrywers roem oor die “inner light” van die deurskynende nuwe medium wat kleure reflekteer en onderliggende kleure laat deurskyn deur verskillende lae van verf.
Baie mense het ‘n vooropgestelde idee oor die soort skildery wat met olieverf gedoen is, hulle sien Constable se pragtige groot doeke, of Adriaan Boshoff se kleurvolle werk vol atmosfeer, al die ryk bruine en groene en blou kleure, wat die produk is van ure en ure se werk en beplanning, en dit is nie ‘n verrassing dat hul besluit hulle sal dit nooit kan doen nie.
Maar soos wat jy deur die handleiding en oefeninge gaan werk sal jy agterkom dat daar baie verskillende style en maniere is om te werk.
Olieverf is ‘n baie veelsydige, gebruikersvriendelike medium. Dit is moontlik om in die nat verf te werk, oor die droë verf te werk, om in die verf met ‘n skerp voorwerp te krap, of om selfs al die verf af te skraap en weer oor te begin. Jy kan met kwaste, verfmesse, lappe en selfs jou vingers werk. Jou werk kan vol detail, groot of klein, abstrak of realisties wees. In die begin is dit beter om met ‘n groter kwas te werk as wat jy normaalweg sou gebruik. Baie mense is soms ‘n bietjie bang om te begin, maar die groter kwas stel jou instaat om in die begin meer sterk en ferm te werk en die eerste blok te oorkom deur “aan te val”.
Soos wat jy vorder kan jy jou eie benadering ontwikkel om met ‘n skildery te begin.. Jy kan alla prima werk, wat beteken dat alles in een werksessie klaar gemaak word, ‘n skildery vol lewendige kwaswerk. Of jy kan besluit om die verf te verdun soos met waterverf en eers met ‘n lap aan te wend om die doek eers te kleur. Daarna kan die verf opgebou word, deur laag vir laag te laat droog word voordat die vlolgend laag geverf word, om so ‘n ryk oppervlak vol kleur en tekstuur te skep. Verf kan dus verdun word na deurskynende glanslae of opgebou word in dik impasto relief.
Gelukkig kan almal hierdie tegnieke aanleer en is dit nie net vir mense wat kunsopleiding gehad het nie. Al wat nodig is om te begin is om jou kwas in jou hand te neem, bietjie verf uit te druk en nie lank nie, dan het jy resultate.. Dit mag miskien nie perfek wees nie, maar jy sal verbaas wees wat jy kan doen.
Elke kunstenaar ontwikkel met tyd sy eie styl, amper soos ‘n handtekening. Dit kom met eksperimenteer, observering en waarneming van ander kunstenaars en om verskillende metodes en benaderings uit te toets. So doen jy kennis op van alle moontlikhede en beperkings en natuurlik ook van wat jy geniet om te doen. Sommige kunstenaars benader ‘n kunswerk intellektueel, met groot beplanning. Ander weer hou net eenvoudig daarvan om met kleur te speel en geniet die uitdaging wat die verf hulle bied. Die belangrikste is dat jy geniet wat jy doen en dat jy jou eie styl vind om in te werk.

Oil paint palette
“Kuns is die vreugdevolle en spontane bewys van die mens se vermoë om uitdrukking te kan gee aan sy diep gevoelens van skoonheid, orde, lewe en liefde” (Vicci Sperry)
“n Kunswerk is die uitdrukking van ‘n idee, dit reflekteer die bewuste en onbewuste denke van die kunstenaar. Kuns is nie die resultaat van ‘n produksielyn nie, dit kan nie deur ‘n masjien gemaak word nie. Ware kuns is nooit koud, leweloos of stereotiep nie. Goeie kuns, soos goeie musiek werk bevrydend.
‘n Digter gebruik taal en spraak. ‘n Kunstenaar se gereedskap is visueel. Die kunstenaar gebruik alles tot sy beskikking om sy emosie uit te beeld. Sy insig in kleur verhoudings groei dieper en dieper soos wat hy werk. Jy kan self besluit hoe jy die verf gaan aanwend tot jy tevrede is. Jy kan aanhou aan jou werk verander of heeltemal iets nuuts maak. Die moontlikhede is onbeperk.
Ons is nie onder druk om ‘n voltooide werkstuk te lewer nie, ons leer soos wat ons werk. Die regte gesindheid is om soos ‘n kind jouself toe te laat om die ondervinding te geniet. Ons begin met ‘n skoon wit doek, net dit wat in jou gedagtes en emosies is kan gebeur op jou doek. Besinning voor jy begin help om probleme op te los en berei die weg vir kommunikasie deur jou kuns.
Die besluit om kuns deel van jou lewe te maak is soos om op ‘n reis te gaan. Dit word ‘n leefstyl. Net soos enige reis wat ons onderneem berei ons voor. Ons gaan begin met teken, en dit gaan pret wees. Ek nooi jou om saam met my te gaan stap op ‘n ontdekkingstog in die kunswêreld.

Secret Garden- Ek nooi jou om saam met my te gaan stap op ‘n ontdekkingstog in die kunswêreld.
Baie van die oefeninge is bedoel om jou weer soos in jou kinderdae te laat geniet van wat jy doen. Die volgende stap is om dit wat jy nodig het vir hierdie pret oefeninge bymekaar te maak.
- Potlode: tenminste 6 verskillendes, soos 2B, 4B ens, daarmee saam ‘n skerpmaker en uitveer.
- Houtskool: houtskoolpotlode asook houtskoolstokkies.
- ‘n Blik fixatief wat jou houtskool en pastelwerk ‘n beskermende laag gee (Haarsproeimiddel kan ook werk).
- Ink, akriliese ink werk goed en is bekostigbaar, (Swart, bruin, groen, geel, rooi, blou, turquoise)
- Waterverf: koop ‘n klein stelletjie met 12 kleure
- Kwassies: 1 ronde klein kwassie, 1 ronde groter kwassie, en ek vind ‘n plat kwas onmisbaar.
- Spuitbotteltjie om met water te vul en projekte en verf nat te hou terwyl jy werk.
- Waterverfpotlode (12 kleure)
- Oliepastelle, met dit kan jy wondere verrig, hou sommer klein botteltjie terpentyn ook byderhand
- Papier, skêr en gom
Wenk: Konsentreer om vir jou onderwerp te kyk, nie te veel vir die papier nie. Let op na vorms, patrone en teksture. Beweeg jou hand lossies, hou dus pen verder na agter toe vas. Dit voel miskien bietjie moeilik aan die begin, maar dit gaan jou help met spontane en vry lyne.
Kleurvolle groete
Helena