Week 24 Wit Calla Lelie Skildery

Wit Calla Lelie Skildery

 

Die betekenis van die Calla Lelie,of Arum lelie soos dit ook bekend staan is reinheid, onskuld, getrouheid en heilgheid. Wit Calla lelies word algemeen gebruik met Paasfees en word sodoende geassosieer met opstanding en lewe na die dood. Dit is ook hoekom calla lelies gekies word vir begrafnis ruikers en hulle is simbolies vir simpatie en meelewe.

Vir hierdie skildery het jy nodig:

Canvas of stewige papier

Ronde kwas nr 6

Plat kwas nr 8, en ‘n waaierkwassie

Wit, ultramarine, sap groen, geel, yellow ochre akriliese of olieverf

Die skildery werk die beste op ‘n donker agtergrond,soos swart, donkerblou of bruin of ‘n donker groen.

Stappe:

  • Teken buitelyne met wit potlood
  • Gaan bo-oor buitelyne ,gebruik ronde kwas met blou verf
  • Gebruik waaierkwassie en skilder met groen, blou en yellow ochre die blare. Werk met kontoerlyne,dis nie ‘n plat blaar nie
  • Gebruik die plat kwas om stingels te skilder, groen, en op die sykant geel, en ander sykant blou vir skaduwee
  • Skilder die blomme se kelke met wit, en titsel blou op die kant van die plat kwas.
  • Skilder die binnekant van die blom met plat kwas, gebruik wit gemeng met blou en groen vir skaduwee kleur.
  • Aksentueer die wit van die blom aan die einde met plat kwas en wit verf.
  • Die binneste stamper van die blom word met geel en yellow ochre of bietjie oranje geskilder

Gaan kyk gerus na werke van ou meesters of ander bekende kunstenaars en let op na die onderwerpe om sodoende bogenoemde te sien, m.a.w. die eenvoud van die onderwerp wat met passie geskilder is.

Kies een en doen ‘n reproduksie.

 

Kleur

Kleur speel ‘n belangrike rol in enige skildery, kleure het definitief ‘n invloed op mekaar, die verhouding tussen lig en donker kleure, asook warm en koue kleure is baie belangrik.

Deur net ‘n bietjie water by kleur  te voeg sal die intensiteit van die kleur verander, (word ligter of gryser). Leer dus om kleurpigment te gebruik sonder groot hoeveelhede water, onthou die kleur is in die pigment, nie in die vloeistof nie.

Dan is dit ook so dat kleure ons emosies beïnvloed, dis dus goed om voor die tyd te besin wat jy wil skilder, en let op wat gebeur terwyl jy besig is om te skilder.

Beplanning is goed en nodig, oorbeplanning kan weer fataal wees, omdat daar dan geen ruimte om te eksperimenteer of kreatief te wees gelaat word.

Eerstehandse kennis word hoofsaaklik opgedoen deur dit self te doen, m.a.w. hoe meer jy skilder, hoe meer gaan jy leer watter kleure om te gebruik.

 

Kleur en Kontras:

  • Kleure is lig of donker, warm of koud
  • ‘n Donker kleur wat teen ‘n ligte kleur geplaas word dui op ‘n verandering in rigting (Ligte kleure kom vorentoe en donker kleure lyk verder agtertoe)
  • ‘n Warm kleur teen ‘n koue kleur wys waar die sonlig is ( warm kleure kom vorentoe), die koel kleure lyk verder weg, en word gebruik om dit wat in die skaduwee is uit te beeld.
  • ‘n Warm kleur teen ‘n koue kleur, soos oranje teen blou, is dan ‘n helder, sterk luiddrugtige kleur(oranje) in direkte kontak met ‘n stiller, teruggetrokke kleur (blou)
  • Deur komplementêre kleure soos oranje en blou te gebruik kry die skildery lewe, ‘n “hartklop”, die kontras word deur die kunstenaar in die skildery geskep, wanneer dit nie daar is nie, om dit te laat lewe.

 

 

 

Week 23 Koffiekuns; om te skilder met koffie

Koffie kuns en oliepastel

Hoekom sou jy met koffie wou skilder?

  • Dit is iets anders:. ‘n Kunswerk wat met koffie geskilder is trek die aandag omdat dit ‘n ongewone medium is wat jy gebruik. Dit is dus ‘n goeie manier om jou styl te ontwikkel met iets anders.
  • Mense is baie lief vir koffie Wanneer jy met koffie skilder het jy dadelik die aandag van al wat ‘n koffieliefhebber is, hulle waardeer ‘n kunswerk wat met hul gunsteling drankie geskilder is.
  • Koffie is so ‘n toeganklike medium, dis maklik verkrygbaar:   Kunsbenodigdhede kan nogal duur wees, en nie bekostigbaar vir almal nie. Maar om alledaagse materiaal te gebruik maak bekostigbaar en is dit binne die bereik van meeste mense.
  • Dit is so maklik om mee te werk: Maak ‘n klein houertjie koffie aan, gebruik ‘n skinkbord, werk met ‘n klein sketsboek, en siedaar, jy kan sommer in die tv kamer op jou skoot sit en werk, saam met die res van die gesin, terwyl hulle hul gunsteling program kyk.
  • Dit is sag op die oog: Die subtiele bruin kleure herinner aan sepia kleure en is mooi om vir te kyk. .

Hoe begin jy?

Maak vir jou eers ‘n lekker koppie koffie, geniet die reuk en die heerlike smaak. Om mee te skilder kan jy espresso gebruik wat sterker is, en dus donkerder kleur het. Jy kan ook ‘n oplossing maak van kitskoffie en warm water. Verder gebruik jy waterverf kwassies en waterverf papier of gewone papier. Jy gebruik ook dieselfde tegniek soos vir waterverf. Ek verkies om nie die papier nat te maak nie. Verder sou jy ook eers met wit oliepastel kan teken, en dan met koffie bo-oor skilder. Die plekke waar die wit oliepastel is laat nie die verf klou nie (resist) en so kan jy mooi effekte kry vir tekstuur.

Dis ‘n goeie idee om ‘n sketsboek te gebruik waarin jy net koffie gebruik as medium. Die voordeel is dat dit nie morsig is nie, jy kan enige plek werk. Jy kan selfs wanneer jy reis koffiekuns doen onderweg, of by verskillende plekke wat jy besoek klein sketsies in koffie doen. Gebruik jou verbeelding, jy kan ook ‘n tema kies. Blomme, diere, figure, geboue, noem maar op, daar is nie iets wat jy nie met koffie kan skilder nie. Maak eers liggies ‘n potloodskets en beplan min of meer jou komposise voor jy aan die werk spring.

Wanneer jy patrone skilder kan dit jou help om rustig te word. Jy kan die papier verdeel met ‘n liniaal, of dit vou in segmente. Sommige kunstenaars begin in die middel en werk dan in ‘n sirkel uitwaarts. Maar, jy kan ook in ‘n hoek begin en so die papier vul. Maak dan sirkels, driehoeke, kolle, reguit lyne, hoekige lyne, gekurfde lyne, en vorm so verskillende patrone om die papier mee te vul.

Nog ‘n manier is die “blokke” metode, dit is sommer ‘n lekker manier om terselfdertyd komposise te oefen. Jy kan die blokke vul met verskillende kwastegnieke, of in verskillende blokke klein prentjies te maak van verskillende koffiebekers, blomme, skulpe, blare, sade, skoene of wat ookal. Nog ‘n idee is om  ‘n silhouet te teken, soos van ‘n vis of skoenlapper en dit dan vul met verskillende patrone. Vir donkerder kleur kan jy wag tot die deel droog is, en verskillende lae koffie oormekaar aanwend. Jy kan ook verskillende sterkte mengsels gebruik en so kontras verkry.

Soos jy kan sien is daar net so baie idees as wat daar maniere is om jou koffie te drink. Sterk of flou, maak jou keuse. Gebruik jou verbeelding, ontspan en geniet hierdie vriendelike en toeganklike medium.

Week 22 Kuns as Meditasie

Guard your heart for it is the well-spring of life

Kuns as ‘n hulpmiddel vir meditasie

Kuns gee ‘n gevoel van vloei en vryheid.

Net soos meditasie kan kuns ons help om in die  dieper en stiller deel van ons self te tap.Ons raak meer bewus van om in die oomblik te wees.

Baie van ons het gehoor van die voordele van meditasie, maar vind dit soms moeilik om dit te doen. Nog minder van ons is bewus van die opmerklike voordele van artistieke ekspressie. Om kuns te maak is nog ‘n manier om te mediteer, en dit bring genesing.

Kuns as terapie het ‘n helende uitwerking op ‘n verskeidenheid van siektes, en werk effektief vir alle geslagte, oor taalgrense asook verskillende ouderdomme. In ‘n onlangse studie  van kanker pasiente is bevind dat kunsterapie, tesame met  chemoterapie en bestraling, nie net die simptome wat tipies is vir kanker pasiente, soos pyn, moegheid en angstigheid verminder het, maar ook lewensverwagting verbeter het.

Kuns is nie net genesend vir individue wat aan terminale siektes ly nie. Hier is ‘n paar redes hoekom kreatiewe aktiwiteite goed is vir psigologiese geestesgesondheid.

  • Kuns is ‘n hulpmiddel vir meditasie en self-konneksie      Meeste van ons kan verstaan dat kuns ‘n manier is om die werklikheid te ontsnap, maar waar kom die genesings potensiaal vandaan? Kuns het ‘n impak op ons brein: Om emosionele stabiliteit te ervaar het grootliks te doen met verantwoordelikheid neem vir ons emosies en hoe ons voel. Navorsing het die kragtige invloed van meditasie bewys. Een van die redes hoekom dit so kragtig is, is omdat dit aanvaarding bring. Om kuns te skep is ‘n tipe meditasie, ‘n aktiewe oefen van die brein wat bewustheid bevorder en aanvaarding van gevoelens en gedagtes sonder veroordeling beklemtoon. Dit laat ook die liggaam en gedagtes ontspan. Kuns, soos meditasie help ons om afstand te skep tussen ons dikwels negatiewe, angstige gedagtes, en help ons om te skakel met ons ware self – in teenstelling met die vlietende of vals gevoel van self of identiteit wat ons soms beleef wanneer ons vasgevang is in emosies en gedagtes. Wanneer ons iiets skep en kreatief besig is, gaan ons brein in ‘n fase van bewussyn en breek dit weg van die konstante dialog en gedagtes in ons koppe.
  • Kuns skep ‘n gevoel van vryheid en om te vloei Net soos met meditasie kan kuns ons help om in die dieper en stiller  dele van onsself te tap. Ons gaan in ‘n fase van vloei en om in die oomblik bewus te wees .
  • Kuns laat ruimte om jouself op jou unieke manier uit te druk   Die kreatiewe proses maak behoefte aan verbale kommunikasie oorbodig Kreatiwiteit is ‘n taal op sy eie en verbind mense met mekaar en met hulself op ‘n nie-verbale manier.
  • Kuns en kreatiwiteit anker ons en help ons om te fokus.

Hoe kan jy kuns en meditasie kombineer?

  1. Raak ontslae van alles wat kan steurnis veroorsaak, soos selfone, kies ‘n plek waar jy ongesteurd kan sit vir ‘n rukkie
  2. Laat los waarmee jy die dag besig was en wees daar, in die oomblik, hou jou gedagtes daar
  3. Geniet die kunswerk voor jou, Geniet om lyne te maak, teksture te skep, om te krabbel
  4. Sien die detail raak
  5. Laat jouself toe om saam met die kunswerk te wees, soos om net stil te wees en die geselskap van ‘n goeie vriend te geniet. Die proses is belangrik, proses van stilwees en net te wees, dit gaan nie nou om ‘n mooi kunswerk te skep nie.

 

Week 20 Om jou Unieke self te wees

  Om jou unieke self te wees

                                       “A work of art which did not begin in emotion is not art” (Paul Cézanne)

 

Hoe kan jy te werk gaan om jou eie unieke styl te ontwikkel?

Wie en wat inspireer jou? Dit is altyd goed om te begin met iets waarvoor jy lief  is, iets wat jy in belangstel, iets wat jy ken.

Dit help baie om op ‘n tema te besluit en dan binne die raamwerk te werk. Dit lyk ook beter as jy sou wou uitstal en jy het ‘n deurlopende tema, of temas, as wat jy teveel rondspring en dit naderhand impak verloor.

Wanneer jy besluit het op ‘n tema of onderwerp, soos b.v. wilde diere, bome, blomme of wat ook al, kan jy begin om net oor die onderwerp referensiemateriaal bymekaar te maak en ook so’n bietjie navorsing te doen. Kies jy b.v. voëls, kan jy op ‘n sekere soort besluit, soos volgens hulle habitat, dieselfde geld vir blomme, doen dan ‘n reeks oor proteas, of rose of veldblomme, werk dus meer gefokus en selektief.

Wanneer jy wil werk kan jy ook begin deur te werk met dit wat jy direk in jou omgewing sien, soos die uitsig deur jou venster, ‘n landskap, die koppies  op die tafel, klere oor ‘n stoel, die kat in die vensterbank, hond op die mat voor die kaggelvuur ens.

Wat jy ook al skilder sal afhang van jou belangstelling, omstandighede, en tipe skildery wat jy wil skilder.

Besluit ook vroegtydig of  jy in portret of landskapformaat gaan werk.

“We see nothing truly till we understand it” John Constable

Kies dus ‘n onderwerp wat jy in belangstel,en wat vir jou interessant is, iets wat jy ken,  kry die gevoel van jou onderwerp, indien moontlik stap om  of in jou onderwerp en :

  • Identifiseer sekere eienskappe: vlakke, kontoere, afstande, struktuur, tipe van plantegroei in landskap ens.
  • Bestudeer ook die invloed van lig: kwaliteit, hoe dit die onderwerp beïnvloed, rigting waar vandaan lig kom, tyd van die dag, weersomstandighede, beweging van wolke, wind ens.
  • Wat is die mees uitstaande, dominante aspek?
  • Wat was dit wat eerste jou aandag getrek het?
  • Gebruik ook die onaantreklike of oninteressante voorwerp en dele.
  • Wat wil jy beklemtoon of uitlig in skildery?
  • Bestudeer die kleure: Is daar ‘n kleurskema of dominante kleur, is die kleurskema warm of koud? Hoe beïnvloed die kleure mekaar?
  • Doen eers ‘n paar potlood- of houtskoolsketse van jou onderwerp
  • Beplanning van komposisie is noodsaaklik.

Dit is wat gaan bepaal wat die inhoud en onderwerp van jou skildery gaan wees, asook of daar dieperliggende betekenis en simboliek in jou werk is.

Kuns is ‘n denkwyse. Dit word ‘n leefwyse om te observeer, en waar te neem en om jou ervaring op doek weer te gee. Jou benadering en jou lewenshouding sal in jou kunswerk uitkom.

Kuns is ‘n belangrike kommunikasiemiddel. Wat wil jy sê? B.v.praat jy oor vrees of liefde, woede en agressie of vrede en aanvaarding?

Wanneer jy kyk na verskillende kunstenaars se werk sal jy oplet dat daar ook sprake is van ‘n proses, eers is dit net ‘n gedagte of idee, iets wat hul aandag trek en inspireer, dan volg ‘n reeks sketse, sommmiges met kleur in b.v. oliepastel, ink of wat ook al naby was om mee te werk en eksperimenteer, en uit die werk groei dan ‘n kunswerk , gewoonlik nie net een nie, want soos wat gewerk word kom daar al hoe meer idees. Om die proses te illustreer is daar ‘n voorbeeld van Marc Chagall ingesluit indie week se kunklas video.. Dit is van sy Jerusalem vensters,dit simboliseer die twaalf stamme van Israel, in stralende kleure, en hulle is ongetwyfeld onder die mees inspirerende kunswerke van die twintigste eeu.  hy het eers gaan navorsing doen oor die twaalf stamme van Israel, en tydens sy werk het hy ook die poësie, passie en geloof in die Bybelverse nooit uit die oog verloor nie.  Die werke is ook op ander plekke uitgestal voordat dit finaal in die pragtige sinagoge van die Hadassah-Hebrew Mediese sentrum  in Jerusalem geïnstalleer is. (Kyk  Kickstart Art Om jou unieke self te wees video)

Doen ‘n persoonlike studie van wat jou inspireer en motiveer. Kuns ontstaan uit die behoefte of begeerte om jou self uit te druk.Dit is dikwyls terapie vir ‘n persoon wat teruggetrokke is en dit moeilik vind om met woorde te kommunikeer. Ons almal word geinspireer en gemotiveer  op verskillende  verskillende maniere

 Kreatiwteitsoefening:

Skildery met 100 kwasbewegings

  • Plaas ‘n bord op papier en trek ‘n groot sirkel.
  • Begin verf met geel, rooi, groen, neutrale kleure en blou
  • Dit is net ‘n nuwe, vars manier om op te warm, kreatiwiteit aan te moedig en vrees vir die wit papier te oorkom.
  • Oefening kan ook saam met iemand gedoen word, neem dan beurte en werk saam tot by 100 kwasstroke.

 

Week 19: Stillewe

Stillewe

Irma Stern het pragtige stillewes geskilder

Agtergrond:

As ons terug kyk in die geskiedenis sien ons dat enige kunsvorm honderde jare geneem het om sosiaal aanvaarbaar te wees. Die rede hiervoor was veral die geweldige sterk invloed van die Christelike Kerk deur die Middeleeue. Die Kerk het mense voorgeskryf hoe om te leef en ook wat hulle toegelaat was om te skilder.

Die enigste aanvaarbare kunsvorm was godsdienstig van aard en het sterk Christelike simboliek bevat. As gevolg daarvan was stillewes baie laag aangeskryf en meer vervelige reproduksies van alledaagse gebruiksartikels. Tog het in later jare baie kunstenaars begin om stillewes te skilder en is daar in galerye regoor die wêreld stillewes uitgestal.

 

‘n Stillewe is die perfekte model en kan ‘n groot hoeveelheid vorms bevat, dit is ook hoekom ‘n stillewe so belangrik is in enige kunsklas en is dit vandag ‘n belangrike kunsvorm.

 

 

 

Geskiedenis:

            Die eerste stillewes was waarskynlik van die Hellenistiese Grieke, maar het ongelukkig verlore gegaan. Ons weet van die skilderye omdat dit beskryf word deur antieke skrywers.

In die asse van Pompeï is van die eerste stillewes gevind. Een kunstenaar met die naam van Piraikos het die binnemure van winkels beskilder met eenvoudige stillewes van kos en wyn.’n Ander kunstenaar Zeuxis het ‘n stillewe gemaak van ‘n druiwetros wat so realisties was dat voëls probeer het om die druiwe korrels te pik.

Hierdie skilderye is gewoonlik op houtpanele gedoen met luike wat kon toemaak sodat hulle maklik van een vertrek na ‘n ander verskuif kon word.

In die Middel Eeue was stillewes skaars as gevolg van die invloed van die Christelike Kerk. Eers in die 16e eeu sien ons weer stillewes van Nederlandse skilders soos Pieter Aertsen en Joachim Beuckelaer. Hulle het begin om alledaagse voorwerpe in die voorgrond van hulle figure te skilder. Geleidelik het hierdie voorwerpe groter geword en was die figure deel van die agtergrond.

In  die17e eeu was die gedekte tafel ‘n baie gewilde onderwerp, b.v. met wildsvleis, vis, vrugte of groentes en ook pragtige drinkglase en vase om die vaardigheid van die kunstenaar te wys.

Claesz., Pieter; Breakfast Still Life with Roemer, Meat Pie, Lemon and Bread; City of London Corporation; http://www.artuk.org/artworks/breakfast-still-life-with-roemer-meat-pie-lemon-and-bread-52136

 

Pieter Claesz, en Abraham van Beijeren  se skilderye  is goeie voorbeelde hiervan.

AMO96921 Still Life with a Lobster and a Turkey (oil on canvas) by Beyeren, Abraham Hendricksz van (1620/1-91)
oil on canvas
91×112
© Ashmolean Museum, University of Oxford, UK
Dutch, out of copyright

 

Dan was daar aan die ander kant die eenvoudige houttafel met brood, water en wyn wat natuurlik godsdienstige simbole was.

Blomme en potte was ook gewilde onderwerpe vir stillewes, sommige bevat meer dan 100 verskillende soorte blomme en kunstenaars het rondgereis om verskillende soorte blomme te sien en te skilder.

DUTCH SCHOOL, CIRCA 1750-1800 |

STILL LIFE OF FLOWERS IN A TERRACOTTA VASE ON A MARBLE LEDGE |

Old Masters | 2020 | Sotheby’s

Soorte Stillewes:

  1. Kunsmatig: Geskep deur kunstenaar. Soek items en voorwerpe en rangskik dit. B.v. kos, blommerangskikkings, vrugtebak met materiaal en glase ens.
  2. “Gevonde”: Iets wat net jou oog vang, b.v. tafel na ete, gedekte teetafel met blomme en teepot en mooi koppies, tuingereedskap met gieter en graaf, ‘n paar skoene op die vloer.
  3. “Natuurlik”: ‘n Groep voorwerpe wat buite in die natuur deur die natuur self gerangskik is, voorwerpe kan mensgemaak wees, b.v. bootjie met stukke hout en toue, of anker met dryfhout, of mooi klippies en blare.

 

Wenke:

  • Wanneer jy self ‘n stillewe opstel kies ‘n tema soos kombuisgereedskap met groente, blomme saam met boek en potlode en leesbril.
  • Kleur: Kies warm of koue kleurpalet vir harmonie en eenheid in skildery. Vereenvoudig die kleure al is van die kleure nie werklik in stillewe nie.
  • Maar as jou stillewe baie lewendig moet wees gebruik ‘n verskeidenheid van kleure
  • Gebruik ook gerus die komplementêre kleure saam in jou fokuspunt.
  • Lig: Let op na die rigting van die ligbron, lig wat van kante af inkom is die mees algemeen, wanneer lig van agter af kom kan die kontras baie hard wees veral met kunsmatige lig, lig wat van vooraf op onderwerp skyn verminder weer kontras, dit beklemtoon die kleure en word gewoonlik net gebruik om met vorm en kleur te werk.
  • Simmetrie/A-simmetrie: In ‘n stillewe is te veel eenheid vervelig.
  • Tekstuur: Verskeidenheid van teksture maak dit interessant.
  • Fokuspunt: Kyk vanuit verskillende hoeke en op vars maniere.
  • Perspektief: Basiese riglyne word toegepas in stillewe.Die ooglyn is soos die horisonlyn in landskap.

Oefening:

Kyk in jou huis en stel verskillende stillewes saam. Neem fotos op verskillende tye van die dag van verskillende kante af. Neem ook naby fotos.  Skilder direk van die werklikheid of  gebruik van jou fotos as referensie materiaal vir jou skildery of sketse.

 

Week 18 Wenke vir Suksesvolle Komposisie

Wenke vir Suksesvolle komposisie

Komposisie is baie soos poësie,
jy kan nie iets toevoeg of uithaal
sonder om
die balans te versteur.

Goeie Komposisie

Om te beplan neem miskien aan die begin ‘n bietjie van jou tyd, terwyl jy haastig is om te begin skilder. Dit is die moeite werd om in die begin net so’n bietjie tyd te spandeer om te dink wat jy wil beklemtoon in jou skildery, watter kleure jy wil gebruik, wat jy eintlik kan weglaat uit jou skildery en hoe gaan jy die beste jouself kan uitdruk deur middel van lyn, vorm en kleur. En dit is dus eintlik waaroor komposisie gaan, om jou onderwerp op so’n manier in die skildery te plaas dat dit op eenvoudige manier boekdele spreek.

Komposisie is baie soos poësie,jy kan nie iets toevoeg of uithaal sonder om die balans te versteur.

 

  • Gebruik ‘n Fokuspunt
  • Pas die Reël van Derdes toe (Kyk by week 17)
  • Maak gebruik van lyne  wat die oog in die skildery in lei

Fokuspunt

Verdeel oppervlak horisontaal en vertikaal in derdes

  • Maak gebruik van lyne  wat die oog in die skildery in lei

 

Moenie moeilike of onaantreklike voorwerpe uitlos nie.

          Probeer om na die onderwerp te kyk soos wat dit werklik lyk -, nie soos wat jy verwag dit gaan lyk nie.

            Donker dele is swaarder dan die met ligte kleure. ‘n Klein gedeelte diep rooi of blou sal swaarder weeg dan ‘n groot gedeelte in ‘n neutrale grys/groen.

            Alle dominante kleure en vorms moet nie almal aan een kant geplaas word nie, versprei kleur en vorm en herhaal kleur in agtergrond vir ritme en balans in skildery.

            Dit help om met ‘n spiëel na jou skildery te kyk – dan is dit makliker om objektief te beoordeel. Vra jouself of dit wat jou in die eerste plek geïnspireer het nog uitstaan. Wat maak dit spesiaal? Is dit die manier hoe die lig val of interessante vorms of kleure, een van die elemente moet voorkeur kry.

Jy kan ook die skildery onderstebo hou en dan analiseer. Is jy tevrede met die rangskikking? Word die kyker se oog in die skildery gelei? Is daar ‘n fokuspunt of is daar meer as een voorwerp wat vir aandag kompeteer?

 

Wenke vir fokuspunt:

  1. Meeste kontras tussen lig en donker.
  2. Mees dominante kleur en vorm.
  3. Meeste detail.
  4. Maak gebruik van komplementêre kleur om fokus te vestig.

Begin met fokuspunt werk as uitgangspunt en werk dan weg van dit af. Sit eers alles wat jy sien in en begin dan om dinge wat nie nodig is nie uit te laat. Ondersteun dan die fokuspunt met nog besonderhede – hou die agtergrond eenvoudig.
Sommige dinge kan gebruik word om iets te beklemtoon en balans en eenheid te bewerkstellig.

Oef. 1:

Sny uit tydskrif voorwerpe, figure, ens. uit en plak dit op ‘n papier sodat dit ‘n komposisie vorm. Voorwerpe kan oorvleuel, swaar voorwerpe kom onder en agter, gebruik ‘n tema soos bv. Kos, musiek ens.

 

Oef. 2:

Sny blokke, sirkels, driehoeke, reghoeke uit tydskrif en stel daarmee’n komposisie saam. (Werk met kleurharmonie)

 

 

Pin It on Pinterest